Sophie, die gravin van Wessex, praat openlik oor menopouse

akkreditasie
0:00
play article
Intekenaars kan na hierdie artikel luister
Dis een van die grootste uitdagings waardeur werkende vroue in die gesig gestaar word – en nou het hulle die steun van ’n senior koninklike.
Die beeldskone Sophie Wessex.
Die beeldskone Sophie. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sophie, die gravin van Wessex, het haar steun toegesê aan ’n veldtog wat daarop gemik is om bewusmaking te skep rondom die impak wat menopouse op werkende vroue het. 

Sophie (56), wat met koningin Elizabeth se jongste seun, prins Edward (57), getroud is, het aangesluit by die Menopause Workplace Pledge-veldtog van die Britse liefdadigheidsorganisasie Wellbeing of Women.

Die veldtog fokus op die gevolge wat menopouse kan hê op werkende vroue, wat dikwels hul werk los as gevolg van die fisieke impak.

“Dis tragies dat vroue die werkplek verlaat weens menopouse,” sê Sophie, wat in openbare skakelwese gewerk het voor sy in 1999 met Edward getrou het. 

“Ons is fantasties in ons veertigs en nog meer so in ons vyftigs, sestigs en sewentigs, en ons moet dit vier en aanhou om geleenthede vir vroue te bied.”

Die veldtog doen ’n beroep op alle maatskappye om hul Menopause Workplace Pledge as deel van wêreldwye menopouse bewusmakingsmaand te onderteken. 

Miljoene vroue sukkel met die gevolge van die lewensverandering in hul middeljare, en die simptome sluit angstigheid, swak konsentrasie, uitputting en warm gloede in.

“Ons kan nie toelaat dat enigeen in die werkplek voel hulle moet in die skadu’s verdwyn nie. Ons moet in staat wees om dit te kan verander,” het Sophie gesê.

Die gravin het in Mei die beskermvrou van Wellbeing of Women geword wat fokus daarop om vroue se lewens te verbeter. 

Sy het openlik gepraat oor menstruasie, menopouse en swangerskap – ’n eerste vir die koninklike familie – in ’n video-oproep met die organisasie se voorsitter en ander kenners, en sy het gesê sy wil help om hierdie taboe onderwerpe te normaliseer deur dit “in die oopte te bring”.

BRONNE: PEOPLE.COM, NEWS.SKY.COM
Jongste uitgawe

21 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees