“Ek was gisteroggend dokter toe vir ’n scan omdat daar groot probleme in my nek was. Hulle het opgetel dat die besering baie ernstiger is as wat hulle gedink het en dat ek noodgedwonge ’n operasie moet ondergaan, maar ek weet nie wanneer nie, ” vertel Danie.
Hy en sy aktrise-meisie, Marguerite van Eeden (22), wat die hoofrol vertolk in Huisgenoot, kykNET en The Film Factory se tweede fliek, Vergeet my nie, het op Vrydag 25 September ontbyt geëet by ’n eetplek in Durbanville. Hulle het elkeen in hul eie voertuig gery.
Met Danie se terugkeer na Stellenbosch het hy beheer oor sy motor verloor.
“Ek kan nie veel van die ongeluk onthou nie. Die pad was baie nat en toe ek weer sien, rol die kar,” het Danie voorheen aan Huisgenoot vertel.
Sy voertuig het in ’n sloot langs die pad beland en is intussen afgeskryf.
“Dis darem net ’n operasie en gelukkig nie die einde van die wêreld nie,” vertel Danie laggend.