Spoegwolf se Danie ná motorongeluk: ‘Ek kan nie glo ek leef’

akkreditasie
Danie du Toit was verlede Vrydag in 'n motorongeluk. Foto: Verskaf
Danie du Toit was verlede Vrydag in 'n motorongeluk. Foto: Verskaf
Wanneer hy só na sy afgeskryfde Jimny kyk, kan hy nie glo hy is lewendig nie.

Só sê Danie du Toit (27), hoofsanger van die groep Spoegwolf, ná hy verlede Vrydagoggend net buite Stellenbosch in die Wes-Kaap in ’n motorongeluk was.

Danie en sy aktrise-meisie, Marguerite van Eeden (22), was dié oggend vir ontbyt in Durbanville. Hy en Marguerite, wat die hoofrol speel in Huisgenoot, kykNET en The Film Factory se tweede fliek, Vergeet my nie, het elkeen in hul eie voertuig gery. 

Met sy terugkeer na Stellenbosch, het Danie beheer oor sy motor verloor.  

“Ek kan nie veel onthou van die ongeluk nie. Die pad was baie nat en toe ek weer sien, toe rol die kar,” vertel Danie aan Huisgenoot. Sy voertuig het in ’n sloot langs die pad beland.

Behalwe dat albei sy skouers uitgehak het en hy steeds bietjie sukkel om te loop, is hy piekfyn, sê Danie. 

Hy sê hy is net dankbaar Marguerite was nie saam met hom in die voertuig nie. 

Op Instagram het Danie gespot Marguerite is nog bietjie kwaad vir hom, “want toe sy afhardloop na my (en gedink het ek is dood), het ek my kop so hard gestamp dat ek net uitgeroep het 'neem ’n foto nou, dat almal kan sien hoe sterk my hemp is!'. 

“Ek wil nie regtig jokes maak nie, want ek kan nie glo ek is lewendig nie. Maar as ek een joke kan maak die hemp het survive want dis ’n moerse goeie hemp. My jean is geskeur, my favourite watch verloor nou tyd maar die nuwe 'Wees Reën'-hemp het survive. Die hoed is gesteel,” skryf Danie op Instagram.

“Ek kan nie glo dat ek die ongeluk oorleef het nie! Marguerite het aanvanklik gedink ek is dood; sy was glad nie beïndruk met my nie,” sê Danie.

Hoewel hy weer vandag ’n draai by ’n dokter moet gaan maak en nog aansterk, is hy die naweek terug op die verhoog.

The show must go on!” Hy belowe dat hy dinge rustig gaan vat tydens die vertonings. 

“Ek gaan net stil staan en glad nie dans nie,” vertel hy laggend. 

Jongste uitgawe

2 Junie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees