Supergirl-ster onthul sy's mishandel: 'Ek het dit oorleef'

akkreditasie
Foto: Gallo Images/Getty Images
Foto: Gallo Images/Getty Images
Op die kassie vertolk sy die rol van Supergirl, een van die magtigste vroue in die wêreld. En die aktrise Melissa Benoist het gewys sy is net so dapper soos haar superheld-karakter.

Melissa (31) het Woensdagaand 'n roerende video van 14 minute op haar Instagram-rekening gedeel waarin sy vertel dat sy fisiek en emosioneel mishandel is in 'n vorige verhouding.

"Ek is mishandel deur 'n persoon saam met wie ek in 'n intieme verhouding was, en ek het dit oorleef. Dis nie iets wat ek ooit gedink het ek in my lewe sou sê nie," het Melissa aan die begin van die video gesê.

Volgens CNN het Melissa nie die persoon geïdentifiseer nie, maar hom beskryf as "'n grootmoedige persoon wat sjarmant, snaaks, manipulerend en onderduims" kon wees.

Melissa, wat met haar Supergirl-medester Chris Wood (31) getroud is, sê in die video dat dit haar baie lank gevat het om te besef dat sy vir iemand nee kan sê en daardie persoon teleurstel, en dat sy nie verkeerd is om dit te doen nie.

Sy sê ook omdat haar ouers geskei het toe sy jonger was, was sy vreesbevange oor die idee dat een van haar eie verhoudings dieselfde pad sou stap.

"Op daardie tydstip het dit goed gevoel om te weet iemand wou my hê, dat iemand my so liefgehad het net vir wie ek is. Ek was lief vir hom en het geglo hy is lief vir my; daarom was ek vasbeslote om dit te laat werk," vertel 'n emosionele Melissa in die video.

Melissa, wat bekendheid verwerf het as Marley Rose in die televisiereeks Glee, sê dat die mishandeling aan die begin nie van 'n fisieke aard was nie, maar dat haar eks mettertyd beheer begin verloor en baie jaloers begin raak het.

"Hy wou nie hê ek moes met ander mans gesels of tonele doen waar ek met ander mans moes flankeer of hulle soen nie," sê sy.

View this post on Instagram

Quite literally, ??

A post shared by Melissa Benoist (@melissabenoist) on

Melissa het verder vertel hoe haar eks haar herhaaldelik vasgehou, geklap, aan haar hare rondgetrek en so hard geknyp het dat haar vel stukkend was, berig CNN.

E!News berig dat Melissa se man, Chris, met wie sy in September getrou het, een van die eerstes was om sy steun op Twitter uit te spreek.

Melissa se Supergirl-medester Jon Cryer (54), wat die rol van Lex Luthor vertolk, het op Twitter gesê Supergirl kom so dapper voor in die reeks omdat die aktrise so dapper in die regte lewe is.

Melissa het ook later op Twitter gesê dat sy deur 'n lang proses van versoening gegaan het om tot op die punt te kom waar sy nou gemaklik voel om oor haar ervaring te praat.

Melissa was voorheen met haar Glee-medester Blake Jenner (27) getroud. Hulle het in 2015 afgehaak, maar hul paadjies het twee jaar later geskei.

Bronne: E! Online, CNN

Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees