‘Swak en broos’ prinses Charlene herstel in die hospitaal

akkreditasie
Prinses Charlene van Monaco herstel in die hospitaal nadat sy vroeër vandeesweek ineengestort het.
prinses Charlene.
Prinses Charlene. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 43-jarige koninklike, wat die afgelope paar maande in KwaZulu-Natal bly, is vir mediese bystand na ’n hospitaal in Durban gehaas. 

“Dokters evalueer haar op die oomblik,” sê ’n bron na aan die prinses aan Huisgenoot

“Sy is nou baie swak en broos van haar laaste operasie,” sê die bron met verwysing na ’n chirurgiese prosedure van vier uur wat sy middel-Augustus ondergaan het vir gesondheidsprobleme wat uit ’n oor-, neus en keelinfeksie gespruit het. 

In ’n verklaring sê die Paleis van Monaco die prinses sou binnekort nog ’n prosedure ondergaan het “voor sy skielik ineengestort het". 

“Die prinses sterk nou aan in Suid-Afrika waar haar mediese span aanbeveel het sy reis nie tot al die nodige prosedures voltooi is nie.” 

Die gewese Olimpiese swemmer het voorheen aan Huisgenoot gesê sy het aan ernstige komplikasies gely van ’n infeksie wat sy opgedoen het kort nadat sy in Maart in Suid-Afrika aangekom het om bewaringswerk te doen.

Dit het gespruit uit ’n sinusligting en beenoorplanting wat vroeër vanjaar in Europa op haar uitgevoer is. 

Sedertdien het Charlene verskeie operasies ondergaan en kon sy Suid-Afrika nie verlaat nie, want haar dokters het haar opdrag gegee om nie te vlieg nie. 

In ’n onlangse onderhoud met 702 Radio het die prinses gesê sy sal aan die einde van Oktober na Monaco terugkeer.

Haar man, prins Albert (63), en hul sesjarige tweeling, prins Jacques en prinses Gabriella, het al twee keer kom kueir sedert sy in Suid-Afrika gestrand is: een keer in Junie en toe weer aan die einde van Augustus, toe hulle by ’n lodge in KwaZulu-Natal by haar aangesluit het. 

Sy het foto’s van die herenigde gesin op haar Instagram-blad gedeel te midde van hardnekkige bespiegelinge dat daar probleme in haar huwelik van 10 jaar met Albert is. 

Gerugte dat sy nie na Monaco sal terugkeer nie, doen die ronde. Maar haar woordvoerder het dit verlede maand heftig ontken en vir Huisgenoot gesê die gissinge is “kategories onwaar”. 

“Charlene praat daagliks met haar man en die tweeling. Hulle is haar grootste ondersteuners.”

Volgens Chantell Wittstock, Charlene se skoonsuster en uitvoerende hoof van haar Monaco Foundation SA, “ondersteun die hele familie Charlene deur hierdie moeilike tyd”. 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

18 Augustus 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees
Huisgenoot Eisteddfod

Wys jou talent en kry meestersklasse by bekendes!

Huisgenoot Eisteddfod
Is jou kind talentvol en lief vir die kunste? Skryf nou in vir Huisgenoot se splinternuwe aanlyn nasionale kunsfees.
Skryf nou in