Party mense noem hom Joe Exotic (60), die man agter die gewilde Netflix-reeks Tiger King.
Dis nou twee jaar sedert dié reeks kitsroem behaal het, maar deesdae is Joe terug in die kollig – en hierdie keer het dit niks met tiere te make nie.
Die rede?
Hy wil die volgende president van Amerika wees – en hy wil vanuit sy tronksel regeer.
Joe, wie se regte naam Joseph Maldonado-Passage is, is in 2019 tot 21 jaar tronkstraf gevonnis nadat hy ’n huurmoord op die diereregte-aktivis Carole Baskin (61) beplan het. Hy is ook skuldig bevind aan die doodmaak en handel in verskeie wilde diere en ook die vervalsing van lisensies vir die diere.
Joe se vonnis is later tot 20 jaar verkort nadat prostaatkanker by hom gediagnoseer is, maar hy is steeds in die tronk. Dit gaan hom egter nie keer om sy naam in die hoed te gooi om Amerika se president te word nie.
“Ja, ek weet ek is in die tronk en julle mag dalk dink dit is ’n grap, maar dit is nie. Dit is my konstitusionele reg om dit te doen, selfs van hier af,” skryf hy op ’n webtuiste wat hy vir sy 2024-presidensiële veldtog begin het.
Kykers het in 2020 in die dokkiereeks Tiger King kennis gemaak met Joe se bisarre leefstyl en sy dieretuin met onder meer tiere daarin.
Die wyse waarop Joe die diere behandel het, sy kleurryke leefstyl en die skokkende selfdood van ’n geliefde het behoorlik opspraak gemaak.
In ’n ander kinkel het die diereregte-aktivis Carole Baskin haar ontferm oor die diere in Joe se dieretuin. Nadat hy teenstand van Carole gekry het, is Joe skuldig bevind daaraan dat hy ’n huurmoord op haar beplan het.
Maar kykers was ook agterdogtig oor Carole se verlede.
Baie het beweer sy het dalk ’n aandeel gehad in haar man, Don Lewis, se verdwyning – en hulle het met die verskriklikste teorieë daarvoor vorendag gekom. Alles natuurlik net bewerings sonder bewyse.
Joe sê hy wil onder meer vir president staan omdat hy vertroue verloor het in die Amerikaanse departement van justisie en beskuldig hulle van meineed. Joe hou vol dat hy onskuldig is, en hy beweer ook dat die prokureurs wat hom gevonnis het hom wou doodmaak.
“Al wat ek gedoen het was om vyf baie ou tiere aan die slaap te maak op die menslikste manier moontlik en dit was goedgekeur deur ’n inspekteur van Amerika se departement van landbou, so dis tyd om oor dit te kom,” skryf hy.
Hy beweer ook dat die dierewelsynsorganisasie Peta (People for the Ethical Treatment of Animals) en Carole al veel meer groot katte doodgemaak het as hy.
“Meeste van julle eet elke dag ’n soort dier, so dis tyd dat ons verby hierdie kwessie beweeg,” skryf hy op Instagram.
Hy wil kwansuis ’n stem vir ander wees.
“Ek is hier omdat ek ’n wêreldwye platform het om hierdie politici te laat luister na jou en my uitdagings en om vir antwoorde te vra. Al wat hulle doen is om vir ons te lieg, ons welverdiende geld te vat en dit belasting te noem, en dit weg te gee vir ander lande sonder om enigiets vir ons terug te gee,” skryf hy.
En Carole, wat sê sy?
“Ek dink hy sal aanhou praat solank julle vir hom ’n megafoon gee,” het Carole aan die US Sun gesê.
Dis Joe se tweede keer wat hy homself bewillig as ’n politieke kandidaat. In 2016 het hy in die verkiesing gestaan as ’n onafhanklike kandidaat, maar hy het minder as 1 000 stemme gekry.
Maar hierdie keer is daar ’n paar groot name wat agter sy kandidaatskap vir president staan, sê hy. Wie wou hy natuurlik nie verklap nie.
“So sit opsy dat ek gay is, dat ek vir eers in die tronk is, dat ek in die verlede dwelms gebruik het, dat ek meer as een kêrel op een slag gehad het en dat Carole my haat. Dit alles het niks daarmee te doen dat ek jou stem kan wees nie,” skryf hy.
Bronne: joeexotic2024.com, dailymail.co.uk, the-sun.com, Oklahoman.com, independent.co.uk, nypost.com