Sy het gelag toe sy die nuus hoor.
Die aktrise Trix Vivier het ’n afspraak met die vervaardigers van Legacy gemaak om háár goeie nuus te deel. Sy was swanger, en sy wou hoor hoe dit haar rol as Petra Potgieter in M-Net se eerste telenovelle sal raak. Toemaar, ons beplan lankal ’n swangerskap-storielyn vir Petra, was hul reaksie.
“Hulle het geen idee gehad wat ek daardie dag vir hulle sou sê nie,” sê Trix (34). Maar toe werk dit so uit en kon sy nog tot laat in haar swangerskap, wat sy uit die kollig gehou het, aan tonele vir die reeks verfilm. Dit was maar net een van vele raakpunte tussen haar en Petra.
“Daar was baie dae dat ek gevoel het ek praat my eie woorde en nie Petra s’n nie. Sy is regtig een van die spesiaalste ‘rokkies in my kas’.”
Waar Petra se ma aan kanker dood is, het Trix en ander familielede twee jaar voor die verfilming van die reeks begin het haar skoonma versorg tot sy aan leukemie dood is.
Nes Petra ná universiteit gesukkel het om werk te kry het Trix in die begindae harde bene gekou en haar hand aan alles gewaag – van kinderteater tot dans vir ’n Duitse geselskap in Turkye.
Sy het aangehou en deurgedruk en eindelik het die televisiewerk ingerol – rolle in Sterlopers en Waterfront, sepieverskynings in 7de Laan en Suidooster, en toe die grote van Flea van Jaarsveld in die misdaadriller Trackers. En toe kom die karakter Petra in Legacy.
“Ek weet elke karakter is meant to be, maar hierdie karakter was régtig. Dit was asof sy vir my gewag het,” sê Trix.
Maar daar is één belangrike verskil tussen haar en Petra, wat haar verloofde, Jonno (Richard Gau), aan die einde van Legacy se eerste seisoen voor die kansel gelos het vir die skatryk SJ Price (Anton David Jeftha).