TV-sjef Jenny Morris se man oorlede ná covid-stryd

akkreditasie
Die televisiesjef Jenny Morris se man, David, wat in Junie in ’n hospitaal in Kaapstad opgeneem is nadat hy covid-19 opgedoen het, is Dinsdag net voor middernag oorlede.
TV-sjef Jenny Morris se man, David, is oorlede wee
TV-sjef Jenny Morris se man, David, is oorlede weens covid-19. Foto: Verskaf

Jenny het Woensdagoggend die nuus in die sosiale media gedeel. 

“Dit is met groot hartseer dat ek die afsterwe van my geliefde man, David Morris, kort voor middernag op 13 Julie aankondig,” het Jenny in ’n Facebook-inskrywing gesê. In die inskrywing het sy ook privaatheid vir haar en haar familie gevra. Sy het haar dank uitgespreek vir die liefde en ondersteuning wat sy en haar gesin tot dusver ontvang het.

Jenny het vroeër aan Huisgenoot vertel sy en haar man het albei op 26 Junie uiters moeg begin voel. Hulle het ook ander simptome soos ’n loopneus, hoofpyn en lyfseer ervaar. Albei is einde Junie in die hospitaal opgeneem nadat hulle positief getoets het vir covid-19.

Sy het op 7 Julie aan Huisgenoot gesê dat hoewel dit met haar beter gaan, was David nog in die intensiewe hoësorgeenheid by die Christiaan Barnard-hospitaal in Kaapstad. 

Later daardie dag het sy ook op Facebook gedeel dat dit beter gaan met haar gesondheid en dat daar verbetering was in David se hart en niere, en dat sy infeksiemerkers laer was. 

“Hou asseblief almal wat ly met hierdie pandemie in jul gebede,” het sy haar inskrywing afgesluit.

Medelye het ingestroom nadat Jenny die tragiese nuus van haar man se afsterwe op Facebook bekendgemaak het. “My innige meegevoel, liewe Jenny. Mag jy vrede en genesing in hierdie hartseer tyd vind. Ek stuur vir jou liefde en lig,” het die sangeres Amanda Strydom in die kommentaar-afdeling geskryf.

“Ons is lief en bid vir jou,” het die TV- en radioaanbieder Elana Afrika-Bredenkamp geskryf. “Ons is hartseer saam met jou. So hartseer. Hartgebroke. Ons is lief vir jou!”

Benewens Jenny, word David ook oorleef deur drie seuns en twee kleindogters.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

27 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees