Twitter-oorlog woed oor Oprah se onderhoud met Dolly Parton: 'Sy's vals'

akkreditasie
Nie eens Oprah Winfrey is veilig wanneer daar teruggekyk word na twyfelagtige gedrag van jare gelede nie.
Oprah Winfrey
Oprah Winfrey. Foto: Gallo Images/Getty Images

’n Onderhoud uit 2003 wat Oprah met die countrylegende Dolly Parton (nou 75) gevoer het, het weer opgeduik en ’n gegons en omstredenheid op sosiale media veroorsaak.

Dit het meer as 2,5 miljoen trefslae op TikTok gehad voor dit ook op Twitter gedeel is. Die onderhoud is uitgesaai kort nadat Dolly haar huldeblykalbum, Just Because I’m a Woman, uitgereik het. 

In die kort greep uit die program vra Oprah (nou 67) vir Dolly hoe sy dit regkry om “die ouderdom te klop”, waarop die sangeres grappenderwys laat hoor sy is ’n “strokieskarakter”. 

Oprah sê dan verder: “Nee, maar jy het al openlik gepraat oor van die werk wat jy laat doen het.”

’n Skynbaar onverstoorbare Dolly antwoord dan openlik: “Ek het al ’n paar keer laat sny en regstryk, en ek sal nog laat doen wanneer ek dit nodig het.”

Die twee vroue gesels ook oor die “Jolene”-sangeres se ervaring met geestesgesondheidsprobleme, en Oprah sê sy het gehoor Dolly het in ’n “diep depressie” verval toe sy 40 geword het. 

Dolly Parton
Dolly Parton. Foto: Gallo Images/Getty Images

Dolly sê egter haar probleme in die verlede het nie met haar ouderdom verband gehou nie, maar “was omdat ek vet en 40 was. Ek het baie probleme in daardie tyd gehad, baie vroulike probleme. Dit was net hormone en was nie net depressie nie. Net dinge wat verander het. Maar ek is nou oukei.”

Hoewel Dolly regdeur die videogreep opgeruimd bly, voel talle Oprah se vrae was te indringend. 

“Ja, dit was nie nodig dat Oprah haar op televisie probeer afkraak nie,” het iemand getwiet. “Ek is beïndruk met hoe goed Dolly dit hanteer.”

“Dit is so katterig, en Dolly het omtrent haar man gestaan,” skryf nog een.

“Oprah se gehoor het teen haar gedraai, en sy het selfs haar geestesgesondheid opgehaal om haar af te takel, maar dit het steeds nie gewerk nie.”

Nog een skryf: “Oprah het so obsessief geraak met kykertalle en sensasie. Ek is so keelvol van haar. Dolly Parton, daarenteen, is pure goud.”

Die publiek is nie die enigste mense wat die onderhoud gekritiseer het nie. Die aktrise en #MeToo-aktivis Rose McGowan het ook die geleentheid gebruik om na Oprah te kap. 

Rose McGowan
Rose McGowan. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die 47-jarige aktrise het Oprah gekritiseer en ’n foto van haar gedeel waar sy die veroordeelde verkagter Harvey Weinstein op die wang soen. 

“Ek is bly meer mense sien die nare waarheid oor @Oprah. Ek wens sy was opreg, maar sy is nie,” het sy geskryf. 

“Sy was pelle met Weinstein en het Russell Simmons se slagoffers verlaat en vernietig, en sy ondersteun ’n siek magstruktuur vir persoonlike gewin. Sy is so vals as wat kan kom,” het sy gesê.

Dit lyk of Rose in haar twiet verwys na die 2020 dokumentêr On the Record, wat gehandel het oor die bewerings van seksuele wangedrag teen die Def Jam Recordings-stigter, Russell Simmons (63). 

Oprah het onttrek as uitvoerende vervaardiger en gesê: “Daar moet nog werk gedoen word aan die film om lig te werp op die volle omvang van wat die slagoffers deurgemaak het. Dit het duidelik geword dat my en die filmmakers se kreatiewe visie verskil.”

Dit lyk of Rose insinueer Oprah het nie die beskuldigers ondersteun nie, maar Oprah het destyds aan The Hollywood Report gesê sy “glo en ondersteun die vroue onomwonde. Hul stories verdien om vertel en gehoor te word.” Rose het verder haar gevoelens gedeel deur van verskeie opmerkings te hou, waaronder een wat gelui het: “@Oprah is ’n moeras-dierasie van die ergste graad. Kots.” 

Nog een waarvan sy gehou het, het gelui: “Walglik. Alles draai om mag en geld. Waarskynlik bang om haar miljoene te verloor.”

Dis nie die eerste keer dat Rose Oprah, stigter van die OWN-netwerk, kritiseer nie. Sy het in 2018 vertel sy is die geleentheid aangebied om ’n onderhoud met Oprah te hê om haar storie te vertel, maar was dadelik versigtig oor die kletskoningin se vriendskap met haar beweerde verkragter, Harvey Weinstein (69).

Oprah het by verskeie geleenthede gesê sy het geen kennis van Harvey se seksuele mishandeling gehad nie. Sy het hom in ’n podsending in 2018 ’n boelie genoem. 

“Ek was in Chicago, in my eie klein wêreldjie, maar wat ek van Harvey geweet het, was dat hy ’n boelie was, en as Harvey bel wil jy nie die oproep vat nie, want jy gaan op een of ander manier geboelie word,” het sy op die Goop-podsending gesê.

“Was ek vriendelik met Harvey? Ja, ek was vriendelik met Harvey. Het ek saam met Harvey aan die fliek The Butler gewerk? Ja, maar ek het natuurlik nie geweet wat aangaan nie,” het sy gesê. 

Sy het ook sy “afgryslike gedrag” in ’n Facebook-inskrywing in 2017 gekritiseer. 

BRONNE: DAILYMAIL.CO.UK, EONLINE.COM, NZHERALD.COM, PAGESIX.COM, POPCULTURE.COM
Jongste uitgawe

7 Julie 2022

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees