Usain Bolt verwelkom tweeling – en kyk net hul name

akkreditasie
Hy word as die beste naelloper nog beskou en Usain Bolt maak seker sy nalatenskap leef deur sy kinders voort.

Die Jamaikaanse atleet het onlangs sy tweelingseuns, Thunder en Saint Leo, by sy lewensmaat, Kasi Bennett, verwelkom en hulle op Vadersdag aan die wêreld bekendgestel. 

“Olympia Lightning Bolt [donderweer emoji] Saint Leo Bolt [donderweer emoji] Thunder Bolt [donderweer emoji] @kasi.b,” skryf hy trots by ’n kiekie van sy groeiende gesin.

Die egpaar het in Mei verlede jaar hul dogter Olympia Lightning verwelkom.  

En die tweeling se name? Usain (34) se geboortenaam is Usain St. Leo Bolt en sy seun Saint Leo se naam bring hulde aan sy tweede naam. Thunder blyk geen spesiale betekenis te hê nie buiten dat dit pittige woordspeling is. Die babas laat Usain en Kasi (31) se kroos groei tot drie.




Usain en Kasi is sedert 2014 bymekaar, maar het hul verhouding eers in 2016 openbaar gemaak. Hulle is trouens so privaat dat Usain haar identiteit eers verlede jaar bekendgemaak het. Die nuus van hul tweeling was ook ’n verrassing, want die twee het die swangerskap geheim gehou.

Op Vadersdag het Usain en Kasi hul tweeling met ’n pragtige foto bekendgestel. Daarop poseer hulle in skakerings van wit en beige klere saam met klein Olympia terwyl die seuntjies in mandjies lê en slaap.

“Jy is die rots van hierdie gesin en die beste pappa vir ons kleingoed,” skryf Kasi by die foto. Die tweeling se koms is ’n droom wat bewaarheid is vir die uitgetrede atleet. Hy het geen geheim daarvan gemaak dat hy graag voor 35-jarige ouderdom ’n pa wou word nie.

Selfs al is sy kinders se name ’n erkenning aan sy naelloopsukses – en sy van – sê die Olimpiese kampioen hulle is onder geen druk om in sy voetspore te volg nie. “Ouer wees gee jou ’n gevoel van prestasie,” sê hy.

“Ek is baie gelukkig en net opgewonde om op hierdie reis te gaan.” 

Bronne: ABC.NET.AU, USATODAY.COM, CBSSPORTS.COM , HONEY.NINE.COM.AU

Jongste uitgawe

9 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees