Valiant Swart veil sy kitare en lirieke op vir sy siek vrou

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Lanelle, wat ook die sanger se bestuurder is, het limfedeem en haar mediese behandeling is peperduur.
Valiant Swart
Valiant Swart en sy vrou, Lanelle.

Die gewilde Afrikaanse troebadoer sal enigiets prysgee ter wille van sy reismaat deur die lewe se gesondheid – selfs die kosbare lirieke en musiekinstrumente wat van hom ’n ster help maak het.

En as Valiant se liedjies en toneelspel jou lewe verryk het, dan het jy nou die kans om iets aan hom terug te gee deur vir sy vrou se mediese behandeling te help betaal.

“Lanelle is ’n ystervrou en superma vir ons kinders. Sy het haar hele lewe lank ’n aktiewe leefstyl geleef en nog altyd die fort gehou wanneer ek op die pad moes wees. Limfedeem het haar alledaagse bestaan aansienlik verander,” vertel Valiant.

As sy bestuurder het Lanelle boonop ’n aandeel gehad in die sukses van dié SAMA-bekroonde sanger, liedjieskrywer en akteur. Hy is veral bekend vir sy rol in die Afrikaanse drama Song vir Katryn en trefferliedjies soos “Sonvanger”.

Dokters het onlangs vasgestel Lanelle (51) het limfedeem in haar regterbeen en dokters vrees dit kan ook na haar linkerbeen versprei. Die toestand kan soms ’n nagevolg van kankerbehandeling wees – iets wat Lanelle twee jaar gelede ook moes deurmaak.

Sy vertel self: “Limfedeem affekteer alle aspekte van my lewe. Benewens chroniese swelling, pyn en ongemak, het dit ook ’n invloed op my immuunstelsel en kan dit lei tot lewensgevaarlike bakteriële infeksie. Die ergste vir my is die vrees dat ek my beweeglikheid kan verloor.”

Ná deeglike navorsing het die egpaar ontdek dat daar oorsee ’n mikro-chirurgiese prosedure bestaan om limfedeem te behandel. Daar is egter net ’n handjie vol instansies en chirurge wat hierin spesialiseer.

Pyn, ongemak, strawwe behandeling en fisio-oefeninge, asook ’n streng dieet het haar nuwe normaal geword.

Hulle was gelukkig genoeg om ’n hoogaangeskrewe Amerikaanse spesialis in Cleveland, Ohio, te vind wat die prosedure vroeg in 2022 sal kan doen – maar dit sal sommer baie geld kos.

“Hierdie operasie sal my ’n kans gee om normaal te funksioneer omdat dit ’n alternatiewe dreineringsroete vir die limf skep, wat weefselverandering help vertraag en die kanse verminder om infeksie op te doen,” vertel Lanelle.

As gevolg van haar diagnose, wat met tyd gaan vererger, is Lanelle – wat as ’n aktiewe ma graag stap, swem, reis en ook studeer se toekomsplanne heeltemal omvergewerp.

Pyn, ongemak, strawwe behandeling en fisio-oefeninge, asook ’n streng dieet het haar nuwe normaal geword. En om ver te ry, wat noodsaaklik is vir Valiant se beroep, is nou ’n onaangename en vermoeiende ervaring.

“My vrou moet dag en nag ongemaklike, beperkende kompressiekouse dra om te voorkom dat haar bene opswel en toestand versleg. Sy moet ook elke oggend, sonder uitsondering, spesiale oefening doen om swelling, pyn en komplikasies te voorkom,” vertel Valiant.

“Ten spyte van haar gedissiplineerde oefenprogram en dieet, ervaar sy steeds deurlopend pyn en ongerief, en maak dit normale dinge soos kar bestuur uitputtend.”

Die prosedure wat sy oorsee moet ondergaan, kos ’n klein fortuin. En dan is daar natuurlik ook reis- en verblyfkoste voor, gedurende en ná die operasie.

Om geld in te samel vir Lanelle se behandeling beplan die egpaar om in samewerking met WOES, die ondersteuningsorganisasie vir kunstenaars, twee veilingsgeleenthede te hou in die Kaap en Gauteng.

“Ons wil graag vroeg in 2022 twee lewendige veilings hou. Dit gaan terselfdertyd ook aanlyn gestroom word om ’n groter gehoor te verseker en ’n uitstekende reklameplatform aan adverteerders te bied,” verduidelik Valiant.

Benewens optredes deur bekende sangers, sal daar ook waardevolle Valiant Swart-aandenkings opgeveil word. Dit sluit in Jinx, sy karakter in Song vir Katryn, se kitare (gemonteer in hout- en glas-uitstalkaste); en ’n beperkte aantal nuwe elektriese kitare.

Aanhangers kan ook bie op die handgeskrewe, geraamde lirieke van treffers soos “Songvanger”, “Die Mystic Boer”, “Eyeshadow” en “Duisend myl blues”. En natuurlik ook bottels Mystic Boer-brandewyn, geraamde foto’s met sy handtekening en kunswerke.

Geld sal ook op drie ander maniere ingesamel word: die verkoop van advertensieruimte op WOES se aanlyn veilingsblad, skenkings deur individue en instansies en lootjieverkope op items soos ’n vakansie, jagnaweek, gholfpakket, ’n spa-wegbreek, visvanguitstappie, wyn, vleis en skoonheidsbehandelings.

  • Stuur ’n e-pos stuur na valiant@valiant.co.za vir meer inligting oor die Gautengse konsert en kaartjies vir die veiling, lootjies en konsert.
Teken in op ons nuusbriewe

Kry die dag se sterkste stories, die week se lekkerste resepte, die maandelikse nuus oor modes, boeke, skoolsake en hartsake. Teken nou in!

Jongste uitgawe

20 Januarie 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees