Die aktrise Blyde Smit (26) was eens die borrelende kelnerin Gabby wat ons saans in 7de Laan laat lag het. Nou is sy te sien in Showmax se eerste Afrikaanse romantiese komedie, Troukoors, waarin sy die rol van Luca, ’n rekenaarprogrammeerder, vertolk.
Dié reeks, wat in 2021 in en rondom die Wynlande verfilm is, handel oor moderne romanses. Dit is so gewild onder kykers dat die reeks reeds vir ’n tweede seisoen hernu is.
Oor haar karakter vertel Blyde: “Luca is verskriklik interessant. Sy is baie slim maar soms nog emosioneel onopgevoed.”