Só lyk gesond. Smeulend. G’n wonder die koppe draai wanneer sy verbystap nie. Maar sy is nie sommer net so geskape en so gelaat staan nie. Vanes-Mari du Toit (33) het die ure ingesit om van “fiks” ’n middelnaam te maak.
Want al het sy voor die kameras roem verwerf as ’n veldaanbieder vir Kwêla en aanbieder van die maatsoekreeks Hoor my, sien my, soen my, het sy eers lank as Protea-netbalspeler van oefening ’n leefwyse gemaak. Sy kén gesond leef.
Dis dan ook heel gepas dat Vanes-Mari die een is wat nou as aanbieder die deelnemers aanmoedig in die nuwe gewigsverliesprogram Die groot afskud. In dié VIA-reeks word kennershulp ingespan om oorgewig mense op koers te kry na ’n skraler, fikser, gesonder toekoms.