Tog kon Ellen se vrou, die aktrise Portia de Rossi, ná byna 15 jaar van getroude lewe daarin slaag om háár te verras – en dít met ’n seremonie om hul huweliksbeloftes by Portia se verjaardagpartytjie te hernu.“Portia het my verras deur ons troubeloftes gedurende haar verjaardagpartytjie te hernu,” skryf Ellen op Instagram.
Portia het die seremonie weke lank stilletjies beplan – en selfs die Keeping up with the Kardashians-ster Kris Jenner gevra om as troubeampte die seremonie te beëdig. Nog bekende gaste was teenwoordig, soos die sangeres Brandi Carlile wat opgetree het.
In ’n video wat Ellen vroeër op Instagram gedeel het, sien ’n mens hoe Ellen Portia sprakeloos aangaap, dié is geklee in dieselfde trourok wat sy destyds vir hul groot dag aangehad het.
Portia, wat haar 50ste saam met familie en vriende in die egpaar se nuwe huis gevier het, sê sy wou met dié verjaardag iets anders doen – en wat is meer spesiaal as om haar troubeloftes te hernu voor die mense wat sy die liefste in die wêreld het?
“Ek wou jou voor al ons familie en vriende daaraan herinner dat jy vir my die belangrikste ding in die wêreld is,” sê Portia in die video. Sy sê niks is beter as om so geliefd te wees deur iemand soos Ellen nie.
“Watter prestasie sou ooit beter wees as om deur iemand so ongelooflik soos jy liefgehê te word?” sê Portia in die video, terwyl sy Ellen se hand styf vashou.
Sy is die gelukkigste vrou op aarde, vertel Portia voorts. “Dit is jy, Thingy, dit was nog altyd net jy. Jy laat my beter voel as ek hartseer is. Jy sien my raak, jy laat my veilig voel en ware liefde ervaar. Ek is lief vir jou en ek sal altyd vir jou lief wees. Ek is waarlik bevoorreg om jou vrou te wees.”
’n Emosionele Ellen meen dan sý is die gelukkige een. “Selfs op jou verjaardag is jy die beste geskenk aan my.”
Toe Ellen eindelik weer kon praat, het sy Portia bedank vir haar liefde. “Ek is lief vir jou. Dankie dat jy my elke dag met jou liefde red.”
Die egpaar sê hulle beplan om vanjaar – nadat hulle oor die afgelope 18 jaar in 24 huise gewoon het – eindelik nes te skrop. Hulle is al langer as twee dekades saam. Ellen se geselsprogram, The Ellen DeGeneres Show, het onlangs ten einde geloop.