Lank voor Harry en Meghan die koninklikes na hul pêrels laat gryp het, was daar ’n ander rakker in die Windsors se geledere wat vir beroeringe gesorg het. Wie sal ooit vergeet hoe Sarah Ferguson, toe nog die wettige vrou van prins Andrew, afgeneem is waar ’n minnaar haar tone suig?
Of die kere toe sy so diep in die skuld beland het dat sy by Jeffrey Epstein bakhand gaan staan het? Ondanks al die kritiek teen haar het Fergie nooit vir die kollig weggekruip nie. Die afgelope ruk is sy opnuut op ’n reklametoer deur Engeland en Amerika.
En sy vertel op 63 gaan dit beter met haar as ooit. “Ek het besluit om alle boeie af te gooi. Ek weet nie of dit die koningin se dood is wat my laat voel ek kan nou openlik sê wat ek wil sonder dat ek hoef bang te wees ek beledig iemand nie.”