Hy het soveel geld dat ’n mens dit jou nie eens kan indink nie. Dis genoeg om, wel, enigiets te koop wat hy wil. Trouens, dis so baie dat ’n gewone mens met ’n gewone salaristjek nie eens sal kan verstaan presies hoeveel dit is nie – daar is net te baie nulle in die syfer agter sy naam.
Want Bernard Arnault, wat ander superrykes soos Elon Musk en Jeff Bezos onlangs verbygesteek het as die rykste man ter wêreld, kan spog met ’n fortuin van meer as $238,5 miljard, oftewel R4 600 000 000 000 – R4,6 biljoen.
As hoof van die reusemaatskappy LVMH Moët Louis Vuitton het hy minstens 75 bekende en luukse handelsname in die sakkie, onder meer ondernemings soos Dior, Louis Vuitton, Fenty Beauty en Tiffany & Co.