Wanneer ’n skoonheidskoningin haar kroon kry, loop die trane van blydskap gewoonlik. Sy weet ’n jaar vol besoeke aan eksotiese bestemmings, ontmoetings met glansmense en juigende skares wag op haar.
Dis waarskynlik wat Zozibini Tunzi ook verwag het toe sy in Desember 2019 as Mej. Heelal gekroon is. Maar corona het ander planne gehad. Pleks daarvan dat sy die wêreld vol rits, moes Zozi tydens haar glansjaar in New York skuil terwyl die covid-19-pandemie die wêreld lamgelê het.
In dié swaar jaar moes Zozi – doer in die verte van haar familie en vriende afgesonder – met vars idees vorendag kom oor hoe sy haar titel en posisie kon gebruik om mense te inspireer.