Sofia (18) het in 2017 haar groot deurbraak as aktrise gemaak toe sy Buffy Driscoll in die reeks Andi Mack op Disney Channel gespeel het. Deesdae ken ons haar as Gina Porter in die Disney-reeks High School Musical: The Musical: The Series. Maar dis haar jongste rol teenoor ons eie Charlize Theron in die nuwe fliek The School for Good and Evil op Netflix wat mense aan die praat het.
Sofia speel Agatha wat saam met haar bestie, Sophie (Sophia Anne Caruso), hulself in ’n towerskool bevind waar jong helde en skurke opgelei word om die balans tussen goed en kwaad te beskerm.
“Agatha is droog, knorrig en ’n buitestaander en niemand hou van haar nie,” sê die Amerikaanse aktrise. “Hulle sien haar as ’n heks, maar sy het nogtans ’n omgeehart. Ek is baie opgewonde oor die fliek.”