Margot het in 2020 haar eerste liedjie, “Tydelike afleiding”, uitgereik. Hierna het sy vir eers haar musiekloopbaan opsygeskuif om haar studies in modeontwerp klaar te maak. Nou, ná twee jaar, is sy terug met nuwe musiek – en jy gaan haar popliedjie “110” oor en oor wil luister.
“Ek het die idee daarvoor gekry toe ek op die strand gewag het dat my outjie klaar surf. Daar is iets aan die see wat ’n mens se idees lekker helder maak,” vertel dié 22-jarige sangeres van Bellville in die Kaap. Margot betree nou die grootmenswêreld – en dís waaroor die liedjie gaan.
Dit sê: “Dis oukei as jy ’n bietjie verlore voel en in die onbekende injaag. Jy staan nie alleen in die deurmekaar speletjie van die lewe nie. Almal jaag na ’n plek toe, maar hulle weet nie werklik of die bestemming is waar hulle werklik moet wees nie, maar jy hou die spoed voluit en hou aan jaag deur die lewe om by te hou met al sy dinge. Dis maar my persoonlike gevoel oor waar ek staan in my 20’s.”