Op skool het Steph (16) nog nie ’n dag drama gedoen nie, en dit was nog nooit deel van sy toekomsdrome nie. Maar in sy eerste televisierol as Kallie van Wyk in Showmax se Donkerbos lyk hy so tuis soos kan kom voor die kameras.
Ook g’n wonder nie, want sy ma, die aktrise Milan Murray, was al in bekende reekse soos Die Byl en Binnelanders. En al is Donkerbos nou nie juis kykstof vir kinders nie, is dit een van die beste plaaslike reekse wat ons in jare gesien het – en Steph is duidelik iemand om in die toekoms dop te hou.
Steph, van Melkbosstrand, klink self ’n bietjie verbaas. “Ek het nog nooit toneelgespeel nie! Dit was surrealisties om saam met professionele mense te werk, maar dit was ’n fantastiese ervaring. Almal het my laat voel dat ek daar hoort. So, al was ek ’n groentjie, het dit gou soos gesin gevoel.”