Maitreyi (20) laat ons lekker saam lag én huil in die derde seisoen van haar tienerkomediereeks, Never Have I Ever op Netflix. Die aktrise speel die Indies-Amerikaanse tienermeisie Devi Vishwakumar wat sukkel om voort te gaan nadat haar pa tragies by haar orkesrepetisie gesterf het. In die jongste seisoen moet Devi die druk van die lewe op hoërskool én al die drama by die huis trotseer terwyl sy ook verlief raak.
Maitreyi se ouers is Tamil en het in hul 20’s weens die oorlog in Sri Lanka na Kanada gevlug. Maitreyi is daar in die stad Mississauga gebore waar sy al haar lewe lank bly. Sy het ná hoërskool besluit om toneel te speel. Minder as ’n jaar later het sy haar eerste rol in Never Have I Ever losgeslaan.
Maitreyi het stof in 15 000 ander aktrises se oë geskop om die rol van Devi los te slaan. “My bestie het die twiet vir die oudisies op sosiale media gesien, ’n skermgreep gemaak en vir my gestuur,” vertel sy. Al rede hoekom sy die oudisie gedoen het, was om saam met haar vriendin uit te hang. Hulle het biblioteek toe gegaan, ’n studiekamer bespreek en hul oudisievideo’s geskiet. Ná nog ’n paar oudisies is die rol toe hare.