Party produkte is so veelsydig, dit kom voor in amper alles wat ons gebruik, soms sonder dat ons dit eens besef. Die vraag na hierdie bestanddele kan vervaardigers tot uiterstes laat gaan om die opbrengs daarvan te vermeerder, en dit kan ’n vernietigende uitwerking op die omgewing hê.
Oliepalmbome (Elaeis guineensis) is meer as 100 jaar gelede in Suidoos-Asië aangeplant, maar is inheems aan Wes-Afrika, waar dit in tropiese klimate voorkom.
Die olie van dié bome is die mees vervaardigde, verhandelde en gebruikte eetbare olie ter wêreld, ’n kortkop voor sojaboon-, kanola- en sonneblomolie. Die vlesige vrugte is rooi (danksy hul hoë konsentrasie betakaroteen) en word gepers om palmolie te skep. Nadat dit deur ’n aantal verfyningsprosesse is, bly die RBDPO oor, wat staan vir “refined, bleached, deodorized palm oil” – verfynde, gebleikte, reuklose palmolie.