Yster is die metaal wat die meeste op aarde gebruik word, en dit speel ’n belangrike rol in ons lewe. Dit is ’n noodsaaklike deel van ons geboude omgewing en is selfs nodig vir die funksionering van die selle in ons liggaam.
Ons leer jou hierdie week meer oor dié veelsydige metaal.
Naas aluminium is yster die algemeenste metaal in die aardkors. Yster bestaan amper nooit in sy suiwer vorm in die natuur nie. Dit is omdat yster oksideer wanneer dit aan vog of suurstof blootgestel word.