Daniel Kish, blind vandat hy 13 maande oud was, kan nietemin met gemak rondbeweeg, op sy eie gaan bergklim en selfs op sy fiets ry. Wat het vlermuise, dolfyne, walvisse en ’n handjievol blinde eggo-oriënteerders (echolocators) soos Daniel gemeen?
Hulle almal gebruik eggo-oriëntering – klankgolwe wat van die voorwerpe in hul omgewing terugspring – om ruimtelik oor die weg te kom. Klank en vibrasies help hulle om sonder oë te “sien”.
Deur fyn na die eggo van hul klikgeluide te luister kan hulle in die pikdonker of in algehele duisternis weens blindheid eggo-oriëntering soos ’n sonar gebruik om hul pad te vind.