Pokke het die mensdom baie eeue lank geteister. Ons lees in ou geskrifte van Indië en China van dié vreesaanjaende siekte. Pokmerke is ook sigbaar aan die mummies van farao’s soos Ramses V, wat meer as 3 000 jaar gelede geleef het.
Vandag hoef ons dié siekte nie meer te vrees nie danksy die merkwaardige insig van die Britse dokter Edward Jenner (1749-1823), wat inentings teen pokke moontlik gemaak het. Hieruit het verdere ontwikkelings tot die immunisering teen verskeie ander siektes gelei.
Die gevreesde pokke het sowat 1 500 jaar gelede na Europa versprei met epidemies wat gereeld onder die bevolking gemaai het. Spaanse en Portugese veroweraars het die siekte 500 jaar gelede na die Nuwe Wêreld geneem, waar dit ’n groot rol gespeel het om die ryke van die Inkas en Asteke tot ’n val te bring. Omdat die inheemse Amerikaanse stamme geen natuurlike weerstand teen pokke gehad het nie, het derduisende mense gesterf.