Selfs verder as wat ons met die blote oog kan sien, is daar ook skitterende, swewende en verskietende voorwerpe. Sommige van hierdie voorwerpe is komete, maar die meeste daarvan is in die uithoeke van ons sonnestelsel, so dis te ver weg vir ons om dit te kan sien.
Ons weet net van komete se bestaan danksy teleskope en beelde wat ruimtetuie terugsein aarde toe. Dan en wan kom ’n komeet egter naby aan die aarde en soms skyn dit helder genoeg dat ons dit met die oog kan waarneem. As jy al ooit ’n komeet deur die lug sien reis het, is jy ’n gelukkige mens!
Daar is baie ingewikkelde omskrywings wat komete verduidelik, maar komete is basies sneeuballe in die ruimte. Die ysige kern bestaan uit water, gasse (soos koolstofdioksied, ammoniak en metaan) en metale.