Jy het al baie gehoor watter gevare besoedeling inhou – hoe nadelig dit vir die aarde is – en wat ons kan doen om seker te maak ons omgewing is skoon en rommelvry.
Maar wat gebeur wanneer die mens se rommel in die ruimte beland? Wat kan ons doen as dit sowat 2 000 km hoog om die aarde wentel? Soos jy sal sien, is besoedeling oral ’n reuseprobleem – selfs in die ruimte.
Besoedeling gebeur wanneer skadelike bevuilingstowwe in die omgewing gemors word. Dié skadelike stowwe kan iets natuurliks wees, soos die as van vulkane wat uitbars. Bevuilingstowwe is egter meestal mensgemaak, en dit is op die een of ander manier nadelig vir die gehalte van die lug, grond of water.