Kundiges
Vraag

16 Jul.

ONSEKER – AL WINK ’N NUWE LEWE
My man was al ’n paar keer ontrou aan my. Ek het ná meer as 20 jaar besluit om te skei, maar noudat ek uitgetrek het, voel ek onseker of ek die regte ding gedoen het. Ek het ook iemand anders ontmoet met wie ek al ’n paar maande gesels. Ek en my man het nooit ’n hegte verhouding gehad nie, en ek smag na iemand wat dinge saam met my kan doen. Is dit normaal om skuldig en bang te voel al weet jy daar is geen hoop meer vir ’n toekoms saam nie?
Antwoord 3 682 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

16 Jul.

Dit is normaal om aan die einde van enige verhouding onseker te voel, want dit neem ’n rukkie voor ’n mens vaste grond onder jou voete kan voel. ’n Egskeiding is soos ’n aard­bewing. Niks is daarna dieselfde nie.
Hoe jy hierdie tyd bestuur, maak saak, en jy doen reeds die regte ding deur selfondersoek te doen. Dis beter om dinge wat jy moontlik jare lank ontken het, nou aan jouself te erken en te verwerk. Begin deur jou eie behoeftes uit te stippel.
Die behoefte aan innigheid en koestering is ’n geldige gevoel. ’n Mens trou nie om ’n huismaat te hê met wie jy bloot ’n woonplek en ’n slaapkamer deel nie, maar wel om iemand ook te kan bemin en ’n lewe met hulle te deel.
Jy sal dalk voel asof jy jou besluit vir jouself en ander moet regverdig, maar elke mens het net ’n paar geleenthede om ware harmonie in sy lewe na te streef. As jy nie ander mense onnodig daardeur seermaak nie, hoef jy geen verskoning daarvoor aan te bied nie.
Vrese rondom egskeidings kan in ’n mate besweer word deur die logistieke van jou lewe stuk vir stuk aan te pak. Vra ’n geskeide vriendin om ’n prokureur aan te beveel of oorweeg bemiddeling om julle ’n skeiooreenkoms te help aangaan.
Die tydjie nadat ’n mens pas die huis verlaat het, kan baie eensaam wees.
Vertel ’n vertroueling of twee van jou besluit sodat hulle jou kan ondersteun. Maar loop lig vir enige emosionele verbintenis in hierdie tyd.
Maak vriende wat jou kan help om weer emo­sioneel gesond te word.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

28 Oktober 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees