Kundiges
Vraag

07 Sep. 2020

DOOD VAN SIELSGENOOT SWAAR
My vrou is onlangs oorlede. Ek wens ek kon my onvoorwaardelike liefde vir haar in woorde uitdruk. Ek het haar spreekwoordelik op die hande gedra. Ons was beste pelle, sielsgenote en liefdesmaats. Haar dood was vir my baie erg en ek het bitter swaar gekry om dit te verwerk, veral in die inperking. Ek is nie op soek na nuwe liefde nie, maar is dit moontlik om weer soveel liefde te kan deel? Om soveel omgee, deernis, respek en wedersydse vertroue te kan uitleef en ’n steunpilaar te wees?
Antwoord 5 861 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

07 Sep. 2020

Jy het iets beleef en ervaar waarna baie van ons innerlik smag, maar wat min van ons die voorreg het om so diepliggend te leer ken. Dit is goed dat jy dit na waarde skat. Geen twee verhoudings is ooit dieselfde nie. Daar is net te veel faktore wat die dinamiek verander. Jy sal daarom dalk nie weer soveel van hierdie soort innige liefde kan uitdeel nie, maar bes moontlik dieselfde porsie van ’n ander soort liefde. Uitgee, omgee en teruggee is jou liefdestaal. Daaraan gaan tyd en omstandighede nie verander nie.
Ek is bly jy soek nie nou ’n nuwe liefde nie, want dan sou jy haar en jouself ’n onguns aandoen. Vir eers gaan jou verwagtings te groot wees. Tweedens moet jy nog afsluiting kry.
Om hierdie hoofstuk in jou lewe klaar te skryf, gaan toewyding verg. Jy is reeds by die wegspringblok. Dit neem moed om van pyn sin te maak. Maar as jy die vreugde van die verlede omarm, kan jy jou gevoelens makliker verwerk en raak die emosionele lading minder. Blaai fotoalbums deur, kyk na video’s en gesels met haar vriendinne en familielede oor haar.
Tog moet jy iewers begin perke stel. Herinneringe mag maar vervaldatums hê. Jy doen nie ’n verhouding of ’n mens se nagedagtenis oneer aan deur mettertyd van die detail net vaagweg te onthou nie. Gun jouself die krag van liefdevol vergeet. Gebruik hierdie tyd vir persoonlike groei. Afsondering sal die verlange vererger. Reik uit na nuwe vriende of hoor waar jy as vrywilliger kan hand bysit.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

9 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees