Kundiges
Vraag

23 Okt. 2020

DRANK VUUR SY PASSIE AAN
Ek en my man is al meer as 20 jaar lank getroud, en ons kinders is al uit die huis. Sy werk het hom voor die inperking baie van die huis weggeneem, en dit begin nou weer gebeur. Sy familie kom nou weer by ons kuier. Dan drink hy te veel en wil die aand seks hê. As hy nugter is, is hy nie so liefdevol nie. Hy drink normaalweg nie baie nie omdat hy soveel op die pad is. Dit gebeur net as ons ’n aand saam met mense braai. Ek wil nie meer saam met hom wees as hy so dronk is nie.
Antwoord 7 022 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

23 Okt. 2020

’n Swak selfbeeld sowel as on­sekerheid oor sy vermoëns as minnaar kan tot sulke dronkmansgedrag lei. Party verhoudingsmaats is ook bloot méér in ’n liefdesbui as hulle aangeklam is. Ander het weens negatiewe ervarings in die verlede drank nodig om genoeg moed bymekaar te skraap. Daar is ook dié wat bloot goed en ontspanne voel wanneer hulle ’n drankie in het.
Verhoudingsmaats wat aspris drink om intiem te kan raak, voel soms geïntimideer deur ander aspekte van die verhouding. Hulle kan dalk voel hulle voldoen nie aan hul maats se standaarde nie en dat daar op hulle neergesien word.
As jy met jul huwelik wil voortgaan, sal jy nie net jul liefdeslewe met hom moet bespreek nie, maar ook sy drankprobleem. Niks gaan verander terwyl hierdie patroon in die slaapkamer voortgesit word nie.
Gesels julle ooit oor waarom hy agter drank wil wegkruip? Hy gebruik dalk nie net drank as kruk in jul liefdeslewe nie; ook wanneer hy van die huis weg is. Om by so­siale geleenthede te veel te drink kan die wegspringblok vir alkoholisme wees.
As hy bereid is om saam te werk, kan julle met geduld en verloop van tyd weer in mekaar se arms lê sonder dat jy ongeliefd voel. Maak ook ’n afspraak met jul huisdokter, want jou man se gesondheid kan dalk reeds onder sy gewoontes ly en hy het leiding en dalk ook behandeling daarvoor nodig.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees