Kundiges
Vraag

27 Sep.

ENKELMA KRAP KOP OOR GELDSAKE
Ek is besig om van my man te skei, maar ek weet nie hoe ek in hierdie covid-tye kop bo water gaan hou nie. Ons het kinders. Dit is seker die ergste tyd om te skei, maar ons kan nie anders nie. Dinge wil nie werk nie, en ons kan net nie ophou baklei nie. Hy het boonop iemand anders. Ek het ’n werk, maar ek weet nie hoe ek met ons geldsake gaan regkom nie. Hy het ons altyd hiermee gehelp. Hy gaan onderhoud betaal, maar dis min. Wat kan ons doen?
Antwoord 961 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

27 Sep.

Jy kan oorleef deur veral aan die begin by ’n paar reëls te hou:
1. Jy sal verbaas wees oor hoe toegeeflik mense is wanneer jy reëlings wil tref om skuld af te betaal as jy nie die volle bedrag kan bekostig nie. Loop net lig vir rente wat jy moet terugbetaal. Praat betyds en bevestig alles op skrif.
2. Hou sover jy kan – veral in die onseker tyd net ná jou egskeiding – alles wat jou geldsake betref, onveranderd. Moet byvoorbeeld nie nou van bank verander nie. Jy het ’n rekord by die bank, en as dit ’n goeie een is, kan hulle jou met oorbruggingsgeld soos ’n oortrekkingsgerief help.
3. Ondersoek alle moontlikhede vir hulp met skool en studiegeld. Talle skole het subsidiestelsels waarvoor jy kan aansoek doen. Vra betyds jou kinders se ­onderwysers daaroor uit, sonder om jou kinders oorbewus daarvan te maak. Dit kan moontlik vir hulle verleentheid veroorsaak.
4. Vra jou vriende om iemand soos ’n ­makelaar, finansiële adviseur of bank­bestuurder aan te beveel wat jou ’n begroting kan help opstel. Dit klink moeiliker as wat dit is. As jy weet hoeveel jy het om te bestee en dit is op skrif gestel en word op datum gehou, is die stryd halfpad gewonne.
5. Hou alle strokies sodat jy weet hoe jy elke maand die onderhoud bestee het. Indien moontlik, maak ’n afsonderlike bankrekening daarvoor oop sodat jy hierdie geld apart kan bestuur. As jy vorentoe vir ’n verhoging moet aansoek doen, sal jy dan al die besonderhede en bewyse gereed hê.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Desember 2021

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees