Kundiges
Vraag

06 Apr. 2021

GESKENKE VIR SY EKS PLA HAAR
Ek en my kêrel is nou al ’n hele paar jaar saam. Hy het ’n seuntjie wat volgens die egskeidingsbevel by ons kuier. Hy maak seker sy kind koop altyd vir sy ma goeie geskenke met sy sakgeldjies, nie net op verjaardae en Kersfees nie, ook op Moedersdag. Sy het nie weer iemand in haar lewe nie. Hy sien die ma net wanneer hy die seuntjie gaan haal of terugneem, of met skoolgeleent­hede. Ons het nog nie kinders nie. Moet ek hieroor bekommerd wees?
Antwoord 2 710 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

06 Apr. 2021

Jou kommer spruit waarskynlik uit ’n vrees dat jou kêrel nog moontlik gevoelens van teerheid en deernis teenoor sy eks het. Maar jy kan eerder bekommerd wees as hy nog baie van haar praat, haar dikwels oor ander sake as hul pligte as medeouers kontak of haar intens in die sosiale media volg.
Wanneer ’n mens ’n verhouding met iemand met kinders het, moet jy leer om deurentyd toegewings te maak. Namate die seun groter word, sal daar dalk meer eise aan jou buigsaamheid gestel word. Soms moet ’n verhoudingsmaat ander kant toe kyk as daar nog kontak tussen die ouerpaar is.
Hierdie gebaar van jou kêrel om vir sy seun respek en goeie maniere teenoor sy ma te leer, is iets tussen pa en seun. Dit neem niks van jou en jul verhouding weg nie.
Dit kan help as jy sulke gebare probeer beskou as ’n teken dat jou kêrel ’n baie bedagsame man en pa is wat ook sy seun aan Moedersdag herinner. Dit beteken hy sal ewe bedagsaam teenoor jou en enige kinders uit jul verhouding sal wees. ’n Ware juweel.
Medeouers wat ná ’n egskeiding op goeie voet is, is ongelukkig skaars, maar kinders vind baat daarby. Ook julle as ’n paartjie sal daarby baat vind as julle ook vorentoe ’n goed gebalanseerde tienerseun by julle kan verwelkom.
Geskenke gee is duidelik ’n taal wat jou kêrel verstaan. Praat sy taal. Kyk hoe jy geskenke en gebare kan inspan om jul verhouding nog inniger te maak; dit kan ook jou eie onsekerhede help verdryf. Moenie hom net op spesiale dae bederf nie, verras hom soms onverwags met ’n klein geskenkie.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

9 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees