Kundiges
Vraag

15 Okt. 2021

HET STEEDS SEKS MET HAAR EKS
Ten spyte van ons egskeiding het ek en my gewese man nog af en toe seks. Dit voel soos die natuurlikste ding ter wêreld en beteken nie meer vir ons iets nie, maar ek weet nie eintlik hoe om ’n einde daaraan te maak nie. Dit help ook nie dat ek steeds tot hom aangetrokke is nie. Hy het weer ’n ander verhouding. Ek het van hom geskei oor sy afhanklikheid van dobbel. Ons het kinders saam, maar hulle weet nie hiervan nie.
Antwoord 5 796 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

03 Feb. 2022

Seks met jou eks is altyd ’n slegte idee. Liefdespel is bedoel vir gelukkige en bestendige verhoudings tussen twee mense wat vir mekaar lief en op langtermyn tot mekaar verbind is. Seks wat niks beteken nie, bestaan nie werklik nie.
Dalk speel jy saam omdat jy onbewustelik op ’n versoening tussen julle hoop. Omdat jy nog tot hom aangetrokke voel, loop jy die gevaar dat dit jou hart kan breek, jou kwesbaar kan maak en misbruik laat voel.
Dit kan jou ook met verskeie seksueel oordraagbare siektes opsaal. Jy klim nie meer net met die mens wat jy geken het in die bed nie, maar ook met sy nuwe lewensgeskiedenis.
Sulke seks sonder enige verbintenis kan misverstande oor jul gevoelens laat ontstaan en tot teleurstelling en onnodige drama lei waardeur jul kinders ook geraak kan word.
Al het jy steeds gevoelens vir hom, het hy duidelik al met sy lewe aangegaan. Seks met sy eks is vir hom ’n bonus. Vermy plekke en geleenthede waar jy hom kan raakloop.
Sorg dat jy nie tuis is wanneer hy die kinders kom op- of aflaai vir besoeke nie. Hou die kontak tussen julle formeel en op skrif.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

9 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees