Kundiges
Vraag

23 Des. 2020

KÊREL LIEG OOR SY OUDERDOM
Ek is nou in my vroeë 20’s en gaan al ’n paar maande uit met ’n man op wie ek verlief is. In die begin het ons mekaar alles oor onsself vertel, en hy het toe gesê hy is vier jaar ouer as ek. Ek het ná ’n tydjie besef hy kan nie so jonk wees nie, want uit gebeure waaroor hy gepraat het, kon ek aflei hy moet ouer wees. Ek was reg, want hy is 11 jaar ouer as ek! Ek het dit by ’n vriendin uitgevind wat hom ken. Ek voel nou ongemaklik hieroor, meer oor die leuen as oor die ouderdom.
Antwoord 7 390 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

23 Des. 2020

Vertroue is die beste wegspringblok vir enige verhouding, en joune is nou met hierdie leuen geskend. Die redes daarvoor kan veelvuldig wees. Dalk wou hy jou vertel wat hy gedink het jy graag wil hoor. Dalk het hy beplan om mettertyd eerlik daaroor te wees wanneer dit nie meer vir jou sou saak maak hoe oud hy is nie. Soms voel mans hulle moes al meer op ’n sekere ouderdom bereik het en dalk het hy nie aan sy eie verwagtinge voldoen nie.
Al glo talle mense die sêding dat ouderdom net ’n syfer is, is dit geen onskadelike wit leuentjie wat hy jou vertel het nie. ’n Mens se ouderdom is ook onlosmaaklik deel van jou identiteit.
Dit is belangrik dat jy hom vra waarom hy nie met jou oop kaarte gespeel het nie sodat jy kan kyk hoe hy reageer. Dalk sal hy kwaad wees en voel hy’s uitgevang, of paniekerig raak en ver­skonings aanbied. Neem sy rede asook sy reaksie in ag voor jy ’n besluit oor die toekoms van jul verhouding neem.
As hy verder betroubaar is, jou nie andersins teleurgestel het nie en hy sy leuen kan geregverdig, kan jy hom vra of julle op ’n nuwe, eer­liker grondslag jul verhouding weer ’n kans
kan gee.
Maar as jy heeltyd gaan wonder wat hy nog vir jou wegsteek, sal jy twee keer moet dink of jy die verhouding wil voortsit. ’n Verhouding wat sleg wegspring, kan momentum verloor omdat daar te veel vrae en te min antwoorde is.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees