Kundiges
Vraag

29 Jan. 2021

LANG HOFSTRYD LAAT LIEFDE KWYN
Ek is in ’n ernstige verhouding met ’n man wat al byna ’n dekade lank in hofsake gewikkel is om sy kinders te kan sien. Sy eks het toegang tot geld. Dit lyk nie of sy ooit gaan ophou moeilikheid maak nie. Ek het al vir hom geld geleen om vir die huidige hofsaak te betaal. Hy kan nie tot ons huishouding bydra nie. Die hofsaak oorskadu alles. Ek oorweeg dit om die verhouding te beëindig, maar voel soos ’n verraaier. Ek is lief vir hom, maar ek wil nie so leef nie. Wanneer is genoeg wel genoeg?
Antwoord 4 720 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

29 Jan. 2021

As die moontlike beëindiging van die verhouding jou ongemaklik laat voel, is dit beter om nog een keer te probeer. Anders kan jy later bly wonder wat sou gebeur het as jy hom dalk nog ’n ruk ondersteun het.
Ouers is geregtig op redelike toegang tot hul kinders tensy ’n hofbevel anders spesifiseer. Doelbewuste ouervervreemding is in niemand se belang nie. Ek neem aan hy het die hof vir ’n wysiging aan die toegangs­bevel genader. Ek stel voor hy versoek die gesinsadvokaat by die hof waar die saak voorkom om spesifiek die geskille oor toesig te ondersoek. Die ouer wat hiervoor aansoek doen, is nie verantwoordelik vir die koste wat hieraan verbonde is nie.
Nog ’n opsie is dat sy prokureur die hof en ander party nader om eerder ’n bemiddelingsproses in werking te stel. Dit behels dat die strydende partye onder leiding van ’n opgeleide bemiddelaar oor die pad vorentoe ooreenkom. Tydens so ’n proses kan hulle ’n ouerskapplan beding wat by die gesinsadvokaat geregistreer kan word en ’n hofbevel word. Al is daar koste aan bemiddeling verbonde, is dit nie naastenby soveel soos met hofsake nie. Almal het dan ook groter beheer oor die tempo van die onderhandelings.
Vir ’n geakkrediteerde bemiddelaar in jul omgewing doen navraag by die Suid-­Afrikaanse Vereniging van Bemiddelaars by 081-071-7000 of info@saam.org.za.
Om die uitmergelende omstandighede te hanteer, sorg dat jy ’n vertroueling het wat vir jou as klankbord kan dien. Ruim ook alleentyd vir jou in om aan iets lekkers te wy.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees