Kundiges
Vraag

24 Mei 2021

MEISIE WIL WEER OOR HULLE ‘DINK’
Ek en my meisie gaan al drie jaar uit. Sy het nou besluit om eers oor ons verhouding te “dink”. Haar mense was vrees­lik siek, en sy het daarna gevra ek moet haar ’n rukkie uitlos om oor die toekoms te besin. Ek het toe al besluit ons moet trou en wou haar vra. Ek het dit toe nie gedoen nie. Wat moet ek doen?
Antwoord 3 535 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

24 Mei 2021

Wanneer mense deur lewensveranderende situasies gaan waar hulle met die vervlietendheid van die lewe gekonfronteer word, gebeur dit dikwels dat hulle by hul keuses stilstaan en daaroor wil nadink. Dit sal dus werklik goed wees om terug te tree en haar die tyd te gun waarvoor sy vra. Onthou, sy het jou nie weggewys nie, maar op ’n eerlike manier aangedui sy wil seker maak van waarheen sy met haar lewe, en nie net jul verhouding nie, op pad is.
Die trauma van versorging van siek mense kan verhoudingsmaats soms so oorweldig laat voel dat hulle nie emosionele energie het om nog een eis aan hul gevoelens te hanteer nie. Deur af en toe steeds met ’n WhatsApp te wys jy is beskikbaar vir troos en raad, maar jy respekteer haar wense, kan jou meer in die sak bring as om nou jouself te bejammer of oorhaastig te wees.
Ondersoek jou gemoed en ook jul gedeelde verhoudingsverlede, en kyk of daar dalk iets is wat jy moet regmaak sodra julle mekaar weer sien. As daar dalk ontrouheid aan jou kant was, en dit is dalk die bron van haar kommer, sorg dat jy uitstippel dat jy aan die vertroue tussen julle wil werk. Dink hoe jy iets in jul verhouding kan aanpak wat sy al uitgestippel het haar pla en hoe jy haar kan verseker dit is oplosbaar.
Troukoors kan intense emosies by ’n mens ontlok, maar maak eers doodseker dat jy die pad vorentoe saam met haar wil stap en kans sien vir die eise wat haar toegewyde betrokkenheid aan haar familie aan jul verhouding sal stel.
Om eers net verloof te raak en tydens die verlowingstydperk verhoudingsonsekerhede uit die weg te ruim, kan julle albei help om ’n huwelik met vertroue aan te pak. So ’n verlowing kan ook die druk op haar en die verhouding minder maak sodat julle op ’n nuwe manier nader aanmekaar kan groei.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees