Kundiges
Vraag

28 Aug. 2020

MISLIKE TANNIE BEDERF KUIERS BY PA
My ouers is geskei. My tannie woon by my pa, en wanneer ek daarheen gaan, is sy altyd mislik met my. Ek het haar gevra hoekom sy altyd so is. Sy sê toe sy hou nie van my ma nie. Ek moet elke twee weke daarheen gaan. My pa sien dit nie raak nie. Ek wil nie my ma daarvan sê nie.
Antwoord 5 457 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

28 Aug. 2020

Dit plaas groot druk op ’n mens as jy heeltyd voel jy moet die beste van ’n slegte saak maak. So ’n aanhoudende poging kan tot angs en later ook woedeuitbarstings lei.
Jy kan niemand verander nie. Jy kan soms wel hul gedrag teenoor jou verander deur die manier aan te pas waarop jy teenoor hulle optree.
Mense soos jou tannie wil dikwels met hul buierigheid almal om hulle beheer. ’n Mens kan nie met sulke onbillike mense redeneer nie. Maar ongelukkig moet ’n mens ’n streep in die sand trek, anders kan die situasie net vererger.
Jy voel nou vasgevang en sien geen uitkoms nie, maar daar is wel ’n uitweg.
Vra jou pa of julle twee meer dikwels alleen op ’n uitstappie kan gaan wanneer jy by hom kuier. Gebruik dan die kuiertjie weg van die huis om vir hom te sê sy suster se moeilike persoonlikheid laat jou met gemengde gevoelens oor jou besoeke by hom. Moenie haar veroordeel of stories aandra nie. Sê vir hom jy wil haar graag met respek behandel en beleef optree, maar dit raak ál moeiliker.
Jou ma weet beslis al haar gewese skoonsuster is geen engeltjie nie. Oorweeg dit om haar raad te vra as die si­tuasie nie verander nie.  
Wanneer jy weer in jou tannie se geselskap is, moet geen persoonlike besonderhede oor jou lewe met haar deel nie. Pasop vir maniere waarop sy jou dalk probeer uitlok om so mislik soos sy te wees. Moet liefs ook nie jou ma met haar bespreek nie.
Fokus op jou skoolwerk, brei jou vriendekring uit en doen prettige dinge vir ontspanning. ’n Mens is net een keer jonk. Jy hoef geen ou onbeskofte suurpruim se slagoffer te wees nie.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees