Kundiges
Vraag

17 Mei 2021

NUWE MA RAAK ‘ONSTABIEL’
My seun is bekommerd oor sy vrou wat ná die onlangse geboorte van hul baba baie verander het. Hy voel sy raak onstabiel, maar weet nie hoe om die saak te ­benader nie. Hy is bang sy sal dink hy dink sy is ’n slegte ma, en sy sal dit nie goed hanteer nie. Die baba is nie ’n moeilike kleintjie nie. Ek het nie juis ’n verhouding met my skoondogter nie.
Antwoord 3 466 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

17 Mei 2021

Daar is ’n verskil tussen die baby blues wat tot so twee weke ná die geboorte kan duur en nageboortedepressie waarvan die simptome langer duur en mettertyd vererger. Van die tekens hiervan is hewige gemoedskommelings, aanhoudende huilbuie en voort­durende gedagtes by die ma dat sy nie die baba kan versorg nie.
Dit is noodsaaklik dat jou seun sy vrou help om die gedragsveranderings raak te sien. Weens depressie is so iemand dikwels onbewus daarvan; en kan daarom nie self besluit om hulp te soek nie.
Raai jou seun aan om taktvol ’n gesprek hieroor met haar aan te knoop. Daarin moet hy vir haar voorbeelde noem van hoe haar gedrag verander het en die deur vir haar oopmaak om haar gevoelens te bespreek. Hy moet dit op so ’n manier doen dat sy nie voel hy blameer of veroordeel haar nie.
Hy kan aanbied om saam met haar dokter toe te gaan om die gedragsverande­ringe te bespreek. Die verpleegsusters by ma-en-babaklinieke sal haar ook kan oorreed om ’n dokter hieroor te spreek. Hulle het dikwels nommers van steungroepe waar sy met ander jong ma’s in aanraking kan kom.
As haar simptome vererger, moet sy so gou moontlik medikasie en behandeling kry, want dié episode kan ook tot latere depressie lei.
Hoe gouer hy hiervan werk maak, hoe beter vir sy hele gesin.
Hy kan ook vir haar noem dat hy opmerk dat sy nie meer haar vriendinne te sien kry nie en aanbied om die baba op te pas terwyl sy by een gaan kuier.
Jy kan haar ondersteun deur aan te bied om die baba op te pas sodat hulle ’n slag kan uitgaan. Jy is reg om verder terug te tree omdat sy jou raad maklik as kritiek kan ervaar.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees