Kundiges
Vraag

06 Apr. 2021

TYD VIR WORTELS UITTREK OF NIE?
Ek bly op ’n dorpie van waar my kinders nog altyd dink ek moet wegtrek omdat my lewe hier swaar was. Ek het ’n werk hier en goeie vriende. My kinders dring nou daarop aan dat ek naby hulle kom woon. Hulle dink hoe ouer ek raak, hoe moeiliker sal dit vir my wees om my wortels uit te trek en ’n groot huis te hanteer. Hulle wil dit verkoop. Hulle het kinders.
Antwoord 3 511 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

06 Apr. 2021

Om aanpassings op ’n hoër ouderdom te maak is inderdaad moeiliker, maar dit klink of jy reeds die emosionele bagasie uit die verlede verwerk het en ’n gevestigde vriendekring op jou tuisdorp het, asook ’n werk waarvan jy hou.
Jou kinders was getuies van die moeilike jare en gun jou net die beste vorentoe. Jy moet aandag aan hul kommer en voorstelle gee, maar nie ten koste van jou eie geluk nie, veral nie as jy dit nog geniet om te werk nie.
’n Openhartige gesprek op ’n familievergadering waar elkeen van julle ’n lysie van voor en nadele opstel, kan help dat almal mekaar se standpunte beter insien.
Ná ’n lewe met baie veranderings en stres is dit emosioneel veiliger om een verandering op ’n slag te pak. Dit is dikwels beter om eerder op jou tuisdorp af te skaal en daar by ’n kleiner tuiste in te trek wat jy vir ’n ruk kan huur.
Belê intussen die geld uit die verkope van jou huis tot jy besluit het wat die beste vir jou sal wees.
Jy kan dalk met jou kinders ooreenkom dat jy vir langer besoeke as tevore na hulle sal gaan om te kyk of jy van die omgewing en die klimaat sal hou.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees