Kundiges
Vraag

23 Apr. 2021

WANHOPIG NÁ DUBBELE SLAG
Ek het vanjaar ’n groot liefdesteleurstelling gehad en ook my werk verloor. Ek bly nou by my ouers, wat ongelooflik negatiewe omstandighede is. Ek het ook nie vriende nie. Dis nie die lewe wat ek vir myself toewens nie. Dit klink dramaties, maar ek het regtig niks om voor te leef nie. Elke dag is ’n stryd. Ek soek die lewe waarna ek smag. Ek wil gelukkig wees. Waar begin ek? Of is dit te laat?
Antwoord 2 699 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

23 Apr. 2021

Die blote feit dat jy na ’n ander, beter lewe hunker, is reeds ’n positiewe wegspringblok. Hoe vind ’n mens jou pad na geluk? Soms deur nie daarna te streef nie, maar eerder balans te probeer vind.
’n Liefdesteleurstelling bring ’n verlies aan vertroue in jouself en ander mee. Die pyn daarvan moet eers verwerk word voor jy weer vir die lewe sal kans sien. Emosionele pyn verdwyn nie vanself nie; dit verg doelgerigte werk.
As jy nie kans sien om jou hart teenoor ’n berader uit te praat nie, is daar steungroepe aanlyn waarby jy kan aansluit – dalk eers as waarnemer voor jy mettertyd aan die gesprekke wil deelneem.
Selfsorg is noodsaaklik om emosionele energie te herwin. Kyk dat jy reg eet, oefening kry en genoeg slaap. Sorg dat jy elke dag uit die huis kom en iets moois buite raaksien. Hou ’n dankbaarheidsdagboek.
Van hierdie tegnieke om weer harmonie en hoop te vind klink dalk kosmeties en soos ’n tydelike pleister op ’n wond. Sodra jy dit gereeld begin toepas, sal jy die emosionele energie kry om jou lewe se legkaart weer stukkie vir stukkie inmekaar te laat pas. Eers as jy moed skep, sal jy jou kan mo­tiveer om iets aan jou omstandighede te verander.
Stel dan praktiese, uitvoerbare doelwitte soos om finansieel onafhanklik te word sodat jy uit jou ouerhuis kan trek. Breek die hoofdoel in kleiner mikpunte op soos om ’n nuwe CV saam te stel of opsies vir heropleiding te ondersoek. Skryf dit neer met sperdatums daarby.
Pak ook elke dag ’n taak in jou ouerhuis waarvoor niemand anders kans sien nie. Maak jouself so nuttig dat jy ook daar weer jou regmatige plek kan inneem.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

9 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees