Kundiges
Vraag

17 Mei 2021

WERKLOSE MAN TEER OP HAAR
Die pa van my kinders dra nie by om vir hulle of vir die huishouding te sorg nie. Ek moet al die geld self verdien, en hy teer boonop op my. Dis moeilik, want ek is ook dikwels werkloos. Hy is al lank werkloos. Hy wil selfs betaling hê om na sy eie kinders te kyk terwyl ek bedags werk. Hy wil net die geld op dwelms uitgee. Ek wil vir my kinders ’n beter lewe gee.
Antwoord 6 206 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

17 Mei 2021

Ek neem aan jy het reeds gesprekke oor rehabilitasie gehad, ultimatums gestel en hy is nie gewillig nie.
Ter wille van jul veiligheid en omdat jy nie inkomste het nie, is dit ’n goeie idee om met ’n welsynswerker oor jou opsies te gesels. Bel die ACVV by 021-461-7437 vir ’n verwysing. Die organisasie 1000 Women Trust het beraders wat jou kan leiding gee by tina@1000women.co.za.
As jy nie reeds ’n kindertoelae kry nie, kan Sassa jou daarvoor help aansoek doen.
Een opsie is om in ’n skuilhuis opgeneem te word. Die liefdadigheidsorganisasie wat by so ’n skuilhuis betrokke is, kan jou van hom help skei en sorg vir jou kinders kry terwyl jy werk en jou met die nodige dokumente help om te sorg dat hy weens sy dwelmmisbruik net die kinders onder toesig mag sien. ’n Skuilhuis soos St. Anne’s Homes (021-448-6792) sien nie net na slagoffers van huishoudelike geweld om nie; hulle help ook ander vroue in nood.
Bel die National Shelter Movement of South Africa by 011-854-5804 of stuur ’n WhatsApp na die noodlyn vir vroue op soek na ’n plek van veiligheid by 082-057-8600.
Nog ’n opsie is om eers ander sorg vir jou kinders te kry, werk te kry sodat jy ’n nuwe blyplek kan bekostig en dan daarheen te trek. Dit sal beter wees as jy intussen om veiligheidsredes by familie of vriende kan bly tot julle geskei is.
Maak seker dat jy dubbele afskrifte van al jou dokumente soos geboortesertifikate, identiteits­dokumente en kindertoelaagkaarte by die polisie laat sertifiseer. Gee vir ’n vriendin ’n stel afskrifte om vir jou te bêre en hou enige betaalstrokies as bewyse van hoe jy vir die kinders sorg.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

9 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees