Kundiges
Vraag

22 Feb. 2021

WERKURE SONDER EINDE
Bipolêre gemoedsteuring is by my man gediagnoseer. Voorheen was die kinders se gegil nooit ’n probleem nie. Nou is hy heeltyd gefrustreerd met wat ons doen. Ek het nog nie vir die kinders gesê hul pa het so ’n siekte nie. Net voor die
diagnose het ek vir hom begin werk. Ons werk albei van die huis af, en daar is net geen einde aan my kantoorure nie. Ek doen ook al die huiswerk. Is dit verkeerd om te verwag my man moet my met die kinders en in en om die huis help?
Antwoord 2 702 keer gelees
Kundige
Liewe Elize

22 Feb. 2021

Jy sal drie stappe as ’n wegspringblok moet doen:
* Jy sal oop kaarte met die kinders moet speel oor hul pa se steuring. Verduidelik aan hulle dat sy brein ’n aandoening het waardeur sy buie beïnvloed word.
Stel hulle gerus dat hy wel medikasie en behandeling daarvoor ontvang. Gee hulle ’n aanduiding van die tekens in sy gedrag waarop hulle bedag moet wees en hoe hulle sulke tye teenoor hom moet optree.
* Vra jou man of hy weer sy psigiater kan besoek om seker te maak dat hy nog die regte medikasie en in die regte dosis gebruik.
* Onbillikheid is geen siekte nie, maar ’n persoonlikheidstekortkoming. Dit regverdig of verskoon nie so iemand se optrede nie. Onderhandel kantoorure met hom en sorg dat jy ter wille van jou eie gemoedstoestand meer uit die huis kom. Jy is nie ’n enkelouer nie, en hy sal sy pligte in die huis en teenoor die kinders moet nakom.
Ken take aan hom toe wat min energie verg soos om wasgoed weg te pak. Herinner hom vroegtydig wanneer dit gedoen moet word.
Die raadgewer, Huisgenoot, Media24 en enige van hul affiliale of geassosieerde eenhede aanvaar geen verantwoordelikheid of aanspreeklikheid vir enige verlies, skade, onkoste of skade van watter aard ookal wat direk of indirek mag volg weens die gebruik van die inligting wat in enige van die raadgewer se antwoorde verskaf word nie.
Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees