Vraag: KÊREL ONDER SY MA SE DUIM
Ek en my kêrel het mekaar op sosiale media ontmoet. Ons gaan nou al 17 maande uit. Ek is agt jaar ouer as hy en was voorheen getroud.

Hy bly nog by sy ouers; ons sien mekaar net naweke. My gewese skoonouers het stories oor my by sy ouers aangedra.

Ek kry gereeld die gevoel sy ouers keur nie ons verhouding goed nie. Sy ma skryf altyd voor wat hy moet doen, selfs hoe laat hy by my mag kuier en wanneer hy mag oorslaap.

Ek het hom al daaroor aangespreek. Hy verseker my sy ouers is gelukkig oor ons verhouding.

Wat moet ek doen? Ek is baie lief vir hom en wil my lewe saam met hom deurbring.
Deur: Nonsens21 September 2018 5849 keer gelees
Antwoord
Jou voorgevoel is nie ongegrond nie. Sy mahulle het bes moontlik halwe waarhede oor jou gehoor. 

Jy kan óf jou kêrel se woord aanvaar dat hulle gelukkig oor jul verhouding is óf wonder of jy nie te veel omgee oor wat mense van jou dink nie. 

Jy moet jou liewer oor sy dominerende ma bekommer. As ’n man teen ’n sekere ouderdom nog by sy ouers woon, moet die gevaarligte in elk geval begin flikker.
 
Dis natuurlik dat sy ma bekommerd sal wees: Jy is ouer en geskei en sy het stories oor jou gehoor. 

Maar as sy aan hom voorskryf oor sy doen en late, wys sy sy wil steeds sy lewe beheer. 

Sulke ma’s is nie net bekommerd nie; hulle is oorangstig, wil almal met reëls beheer en nie hul kinders toelaat om uit hul eie foute te leer nie. 

Sy sal hom so behandel tot hy sy rug styf maak en verantwoordelikheid vir sy lewe aanvaar. 

As dit nou ’n probleem is, gaan dit ongelukkig ook later ’n probleem wees. 

Jy wil voorkeur in sy lewe geniet en bevestiging van hom kry dat daar vir julle ’n toekoms saam is. 

Moedig hom aan om uit sy ouerhuis te trek en op sy eie te gaan woon. Bou aan sy selfvertroue. 

Laat hom eers sy vlerke strek voor jul verhouding ernstiger word. Is hy volwasse vir sy ouderdom? 

Ouderdom kan in ’n verhouding vol respek en liefde net ’n syfer wees, want mense ontwikkel en groei verskillend. 

Tog moet jy duidelikheid kry hoekom jy as ouer vrou vir hom ’n bekoring inhou. 

Kan jy jouself by hom wees? 

Betoon intussen die nodige respek aan jou kêrel se ouers en nooi hulle ’n slag oor sodat hulle die ware jy kan leer ken.
30 Oktober 2018
Kyk in die indeks van onderwerpe om vas te stel of jou vraag nie reeds beantwoord is nie. Liewe Elize kan ongelukkig nie alle vrae beantwoord nie. Van die lesersvrae sal ook in Huisgenoot-tydskrif verskyn en daar beantwoord word.
13 Augustus 2020 Jongste uitgawe

Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.

TEKEN IN
Nuusbrief & kosnuusbrief

Teken in vir ons daaglikse nuusbrief & weeklikse kosnuusbrief!

TEKEN IN
Pasmaats
Moeg vir soek, reg vir 'n toekoms !
Moeg vir soek, reg vir 'n toekoms !
Ek is nie hier om enigiemand te oordeel nie. Die here het elkeen van ons vir 'n spesifieke rede gemaak soos ons is en daarom respekteer ek elkeen rondom my. Ek het met...
Besigtig profiel
Ons wil jou storie hoor
Het jy 'n storie van hoop, 'n besondere lewensles, 'n vreemde ervaring, lekkerlag-staaltjie of sommer net iets wat jy op die hart het.
DEEL JOU STORIE