Vraag: MAN VERSTAAN HAAR NIE
Ek ken my man al nege jaar en ons is drie jaar gelede getroud. Hy stel glad nie daarin belang om enige van my emosionele probleme op te los nie.

Ons sit baie vas oor sy woedebuie. Hy het geen respek vir my gevoelens nie. Los ek hom uit, hou hy aan om my deur sy optrede seer te maak.

Praat ek mooi en rustig met hom, skree hy op my. Ek het ’n intense en dringende behoefte aan kommunikasie.

Ek krop soveel klein probleme op dat ek ontplof oor die kleinste dingetjies wat hy dalk doen. Dit is al so erg dat ek skei oorweeg.

Wat doen ek verkeerd?
Deur: Moedeloos10 September 2018 1352 keer gelees
Antwoord
In ’n verhouding hoef ’n mens nie heeltyd elke behoefte van jou maat te probeer bevredig nie. 

Dis ’n romantiese idee dat jou maat daar is om al jou probleme op te los of om jou ewig beskikbare klankbord te wees. As jy so iemand vind, koester hulle, want hulle is skaars. 

Wat jou man vir jou deur sy optrede sê, is hy weet self nie hoe om jou emosies te hanteer nie, en selfs al weet hy, wil hy nie heeldag daarmee gekonfronteer word nie. 

Hy wil ook dinge vir jou regmaak, maar weet nie hoe nie en dit maak hom ongemaklik. Wat jy daaruit aflei, is dat hy nie jou gevoelens respekteer nie. 

Die slegte nuus is hy gaan nie so drasties verander dat hy die goeie luisteraar gaan word wat jy nodig het nie. Maar as jy verander en met 'n nuwe ingesteldheid hierdie aspek van jul verhouding benader, kan hy dalk begin toegewings maak.

Hoe moet jy verander? Bespreek jou emosionele probleme met jou vriendinne. Vind ander uitlaatkleppe soos om 'n DVD te kyk oor dinge wat jou pla of sommer net vir ontspanning. 

Lees meer boeke en tydskrifte om oplossings te vind. Stap en oefen om jou wêreld groter te maak en jou fokus van jouself na iets anders te verskuif. 

Wanneer jy met hom kommunikeer, hou dit positief, logies, sonder verwyte en beskuldigings. Bou aan die vriendskap tussen julle om mekaar beter te kan verstaan. 

Sien die groter prentjie raak. Ek weet dit plaas al die verantwoordelikheid op jou, maar jy gaan die emosioneel intelligente een moet wees om hierdie kloof te oorbrug. 

As sy houding begin verander, vertel hom jy voel gelief wanneer hy jou verstaan.
20 Oktober 2018
Kyk in die indeks van onderwerpe om vas te stel of jou vraag nie reeds beantwoord is nie. Liewe Elize kan ongelukkig nie alle vrae beantwoord nie. Van die lesersvrae sal ook in Huisgenoot-tydskrif verskyn en daar beantwoord word.
24 Oktober 2019 Jongste uitgawe

Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.

TEKEN IN
Nuusbrief & kosnuusbrief

Teken in vir ons daaglikse nuusbrief & weeklikse kosnuusbrief!

TEKEN IN
Pasmaats
Looking for a decent lady friend
Looking for a decent lady friend
Ek is baie netjies, beleefd, bedagsaam, goeie maniers, goeie sin vir humor, goed versorg en hou van kos maak. Ek speel golf, gym en ry fiets. Soek na iemand wat saam met my kan...
Besigtig profiel
Ons wil jou storie hoor
Het jy 'n storie van hoop, 'n besondere lewensles, 'n vreemde ervaring, lekkerlag-staaltjie of sommer net iets wat jy op die hart het.
DEEL JOU STORIE