Vraag: ‘MY EKSMAN’ EN SY VIERDE VROU
Ek en my eksman is in 2003 geskei, maar het daarna 10 jaar lank saamgewoon. Ek was sy derde vrou.

Hy is nou weer getroud en hierdie vrou regeer sy lewe. Ons het drie kinders: twee seuns (19 en 11) wat by my bly en ’n dogter (17) wat by haar pa bly.

Die nuwe vrou probeer my sleg maak by my kinders en sorg dat hul pa alles van hulle weerhou, maar sy doen alles vir haar eie drie dogters.

My eksman sal vir my SMS’e stuur en my vir koffie nooi of sê hy wil intiem met my verkeer. Dan laat ek haar daarvan weet.

Sy bel almal wat my ken en maak my sleg.
Deur: Moeg vir slegsê20 September 2018 1144 keer gelees
Antwoord
Hier is duidelik baie jaloesie en onopgeloste kwessies tussen julle drie volwassenes en die ses kinders ly daaronder. 

Die feit van die saak is: Jy is nie meer in ’n verhouding met hom nie. 

Jy het nie die reg om verder ’n rol in sy lewe te speel nie, net soos hy nie die reg het om jou te nooi nie. 

Jy sal grense moet stel; daar is nog ’n te sterk verbintenis tussen jou en hom. 

Aanvaar dat hy geen plek meer in jou lewe het nie, maar net in jul kinders se lewe. 

Moenie hom meer “my eksman” noem nie, want die “my” bind jou nog aan hom.
 
Noem hom eerder “die man van wie ek geskei is”; dit gee meer perspektief. 

Kry ’n plan van aksie reg: Dring aan op gelyke behandeling vir jou kinders by hom. 

Bly uit sy lewe, want dan sal dit wat sy nuwe vrou sê of doen jou ál minder raak. 

Moenie haar toelaat om met jou en jou gesin se verhoudings in te meng nie, maar dan mag jy ook nie met haar gesin se lewe inmeng nie. 

Moenie bekommerd wees oor haar swartsmeerdery nie, want kinders het gewoonlik op hierdie ouderdom reeds ’n mening oor hul ouers gevorm.
29 Oktober 2018
Kyk in die indeks van onderwerpe om vas te stel of jou vraag nie reeds beantwoord is nie. Liewe Elize kan ongelukkig nie alle vrae beantwoord nie. Van die lesersvrae sal ook in Huisgenoot-tydskrif verskyn en daar beantwoord word.