Harlow het Prader-Willi-sindroom, ’n seldsame genetiese afwyking wat fisieke, geestelike en gedragsprobleme veroorsaak. Mense met dié sindroom voel gedurig honger, kan nie versadig raak nie, en het dus dikwels erge gewigsprobleme.
Die obsessie om te eet begin gewoonlik op tweejarige ouderdom. Holly (25), van Newport in Wallis, sê sy het met haar dogter se geboorte dadelik geweet sy was nie gesond nie. “Sy was piepklein en het maar 2,15 kg geweeg.
“Sy was baie pap en het nie krag gehad nie. Sy het nie gehuil nie en wou nie behoorlik uit ’n bottel drink nie. Die dokters het aangeneem dit was Prader-Willi-sindroom, want hulle het gesê hulle kon dit ook sien aan haar gelaatstrekke, soos haar oë, neus en mond.”
Kinders met die sindroom word soms gebore met amandelvormige oë, ’n vernouing van die kop by die slape, afwaartse mondhoeke en ’n dun bolip.
Die sindroom is amptelik by Harlow gediagnoseer toe sy ses maande oud was. Dit is ’n voltydse uitdaging om te keer dat Harlow haar nie dood eet nie, sê haar ma. “Sy eet ’n volle maaltyd en sal dan dadelik sê sy is weer honger.
“Dit is baie moeilik, want sy wil heeltyd eet en ek moet sorg dat sy dit nie doen nie. Dit is moeilik om soiets te bestuur en ek moet vir haar probeer verduidelik sy is nie regtig honger nie,” sê Holly.
“As ek ’n bord koek buite los en ek is nie in die omtrek nie, sal Harlow maklik alles opeet. Dit het al baie keer gebeur.
“Ek sorg dat sy ’n gesonde en gebalanseerde dieet het. Maar sy word steeds lekkernye toegelaat, want sy is immers net ’n kind. Ek ontneem haar nie heeltemal nie,” verduidelik Holly. Die sindroom veroorsaak ook vir Harlow ander gesondheidsprobleme.
Sy weeg 44 kg. Dit is sowat 19 kg swaarder as die deursnee-vyfjarige. Sy ly aan slaap-apnee en het probleme met beweeglikheid. Harlow het ook gedragsprobleme weens die sindroom. Dit beteken sy is meer gereeld “opstandig” as ander kinders van haar ouderdom.
“Ek moet streng wees met haar of sy sal my lewe oorheers. Maar ons het ’n baie hegte ma-dogterband, want ons is altyd by mekaar,” sê Holly. “Dit is soms moeilik om die situasie te hanteer, maar omdat Harlow my eerste kind is, ken ek niks anders nie.”
Holly sê sy praat oor haar dogter se toestand om bewustheid te bevorder oor die siekte en wat dit verg om dag in en dag uit daarmee saam te leef. Ondanks haar toestand is Harlow ’n gelukkige meisie, sê haar ma.
“Sy is in ’n hoofstroom-skool en vorder baie goed.”
Bronne: dailymail.co.uk, thesun.co.uk, nypost.com, mirror.co.uk, mayoclinic.org, facebook.com