SD Heijns (21) van Pretoria is nou waarskynlik die wêreld se voorste springer – hoewel hy nog wag vir Guinness-wêreldrekords om sy prestasie amptelik te erken. Hy het ’n video van sy springery op 6 Mei gemaak en ’n drukplaat het die spronge getel.
“My doel was om 'n halfuur lank te spring en dan vir 30 sekondes tot ’n minuut te rus en aanvullings te neem. Die verstandelike uitdaging was eintlik meer as die fisieke uitdaging,” vertel SD, wat die vorige rekord vir die meeste touspringspronge in agt uur met 1 154 verbeter het.
Één wêreldrekord is ook nie vir hom genoeg nie en SD het reeds begin oefen om die wêreldrekords vir die meeste touspringspronge in 12 en 24 uur in Junie en Julie te verbeter.