Net voor ek lughawe toe ry, stop Cecile Koch, Huisgenoot se redaksiesekretaresse in Johannesburg, my ’n inligtingstuk oor die Filippyne in die hand. Sy het dit op die Lonely Planet-webtuiste gekry.
Duidelik is die Filippyne in die jaar 2000 nie ’n baie bedrywige toeristebestemming nie; Lonely Planet se inligting maak skaars twee folio’s vol en niks daarvan klink baie lekker nie.
In Suid-Afrika is ons die laaste tyd baie bewus van die groep eilande in Suidoos-Asië, want ’n paar weke gelede het Filippynse rebelle twee Pretorianers, Callie en Monique Strydom, ontvoer. Die hele land bid vir hul veilige terugkeer van die Filippynse eiland Jolo,waar hulle sedertdien aangehou word.