Die kuns van steelfoto's: Dis laaglê en knyp om prins Harry in die Kaap te kiek

akkreditasie
0:00
play article
Intekenare kan na hierdie artikel luister
Jy moet ken van wegkruip as jy steelfoto’s van ’n Britse prins se swierige leefstyl wil kry, het Haidee Muller uitgevind.
Haidee Muller.
Haidee Muller.

Noudat ek mooi nadink oor die saak, kon ons daai aand net sowel sluipmoordenaars gewees het.

Dit klink gewetenloos, ja, maar ons kon. As ons wou. Dit was die aand toe ek en die Huisgenoot-fotograaf Martin de Kock prins Harry skelm afgeneem het.

Harry en sy destydse blonde meisie, die Zimbabwiese boorling Chelsy Davy. Dit was so middel Oktober 2006 en lady Di se jongste het alte heerlik gefuif by Chelsy se 21ste verjaardagpaartie, hier reg onder ons neuse in die Moederstad.

Daai aand het nie een van sy suurgesig lyfwagte ons raakgesien nie. Wel, nie voor dit te laat was nie. Ja, dit was so hittete of dit was neusie verby. Oukei, darem nie doodsake nie, maar dit kan nogal rof raak as ’n bloubloedprins se lyfwagte op jou en die fotograaf afpyl.

Tog is ons daar weg met wêreld-eksklusiewe kiekies. En ja, ’n Britse tydskrif het selfs ons eie Martin se foto’s gepubliseer.

Maar wag, laat ek die storie van voor af vat . . .

Die Engelse mense noem dit ’n stakeout. Dis presies wat ons opdrag was toe Huisgenoot die voëltjie hoor fluit dat Chelsy haar mondigwording by die gewilde Beluga in Groenpunt sou vier.

Ons moet by die restaurant loop rondhang, beveel die nuusredakteur. Kyk of ons foto’s kan kry. Harry kom glo ook, het ons gehoor. Heelpad van Engeland oorgevlieg daarvoor. En natuurlik wil ons dit graag eerste vir die res van die wêreld wys.

Harry kuier in die Kaap en ons was daar . . . Nooit as te nimmer sou ons ’n uitnodiging kry nie, maar daar is mos maniere om ’n goeie storie uit te snuffel.

Bygesê: As jy die regte mense ken. Of in ons geval: As jy die regte mense op die regte plek raakloop. Vroegdag al sit ek af Beluga toe; Martin sal later volg.

Die restaurant is oop vir die publiek, maar sluit glo binnekort vir ’n geselligheid. “Privaat”, is al wat hulle wil sê. Komaan, mense, ons weet tog klaar wie kom. Eers klop ek by ’n vriendin aan. Dié het ’n kantoor oorkant die pad van Beluga.

Ek wil seker maak ek en Martin kan vanuit haar kantoor “roofkyk”. Ons kan nie; die vensters is heeltemal te hoog. Ons moet ’n plan B beraam.

Ek en roofkyk kantoorvriendin gaan drink toe by Beluga drankies – hoe sou dit nou lyk as ek alleen daar rondhang? Intussen probeer ek inligting uit van die jong kelners kry. Ek draai die sjarme krane oop, maar alles verniet; almal is te bang. 

Daar moes eenvoudig ’n manierwees om hierdie belangrikes te sien.Met my eie oë. Leë hande terug kantoortoe? Dis nie ’n opsie nie

Tog mompel een van hulle iets van streng kontrakte wat hulle moes onderteken. Maar nadat hy die skamele bietjie inligting uitgelek het, verdwyn hy weer. En stap later neus in die lug verby ons tafel.

Ons kamtig nog nooit in sy lewe gesien nie. Maar ek het my antwoord gehad: ’n Mens teken mos net ’n stilblykontrak as belangrike mense betrokke is. Daar moes eenvoudig ’n manier wees om hierdie belangrikes te sien.

Met my eie oë. Leë hande terug kantoor toe? Dis nie ’n opsie nie.

Wonderwerke gebeur soms regtig. Net toe ek en my vriendin wil verkas, hoor ek my naam. Dis my gewese buurman, ’n argitek. En raai wat?

Die man se kantoor is reg oorkant Beluga se ingang. Nee kyk, toe werk hierdie brein van my oortyd. Ons kan mos in oudbuurman se argitekskantoor wegkruip en daar wag om Harry te sien.

prins Harry,chelsy davy
Prins Harry buite die partytjie gekiek.

Teen daai tyd is Martin ook al daar en my oudbuurman stem in dat ons heelnag (ja, heelnag) in sy kantoor kan wegkruip. “Een van die manne sit nog en werk,” sê hy. “Reël met hom.”

Ek dink amper dit was ’n leerling-argitek, en dié het glad nie omgegee om laat te sit en werk terwyl ek en Martin ons op die boonste verdieping van die kantoor tuismaak nie. Ek glo vandag nog hy wou Harry en Chelsy heimlik dalk ook sien, maar nietemin.

Die venster op die boonste verdieping is groot, ideaal vir skelm kiekies neem. Ons moet terselfdertyd doodseker maak Harry se suurknolspan sien ons nie raak nie. 

’n Lang nag, dié.

Buite begin Beluga se mense regmaak vir die “privaatfunksie”. ’n Mannekyn word voor die restaurantdeur staangemaak. Dis soos ’n Mafiabaas aangetrek. Aaa, seker ’n temapaartie.

Maar ai tog, daar plak hulle die restaurantvensters met swart papier toe en die enorme staalhekke voor die ingang na die restaurant en kantore word toegemaak.

Hier sal ons nie sommer net so kan uit nie. Blikemmer! Hoe neem ’n mens kiekies van ’n paartie as jy niks binne kan sien nie? Ons bly lê. Op die vloer, so platsoos Minoralemmetjies. En ons wag en wag en wag . . .

Die eerste gaste begin kort ná sewe aankom. Almal lyk soos mense uit die 1920’s. Harry en Chelsy skitter nog in hul afwesigheid.

Ek is honger. En boonop is daar nie toilette in ons wegkruipkantoor nie. Buite drentel ’n paar stewige manne rond. Beslis lyfwagte, swart klere, oorfoongoedjies in een oor, flitse in die hand. Nors.

Hulle weet van ons, dink ek dadelik toe ek die flitsligtesien. As daai manne ons vanaand hier uitpluk, is daar marakas. Mos mense uit die adelstand wat hulle moet beskerm.

prins Harry,chelsy davy
Harry en sy destydse blonde meisie, Chelsy Davy, by haar 21ste verjaarsdagviering in Kaapstad.

Een van die manne in swart klim by ’n trap oorkant ons venster op, bitter naby. Hy gooi die flitslig oral, ook in ons rigting. My hart klop op ’n anderster plek.

Langs my haal Martin skaars asem. En ek is regtig bekommerd oor die bandana op my kop. ’n Swart en witte.

G’n mens met ’n flits kan dit miskyk nie. Maar hulle het. Die soeklig beweeg bo oor ons koppe, weer en weer en weer. Dit voel soos ’n ewigheid.

Tog gewaar nie een van die nors ouens ons op die vloer van oudbuurman se kantoor met sy uitsig oor Beluga nie.

Ek meen maar, ons sou kon mik en skiet as ons wou. En dis hoekom ek sê ons kon net sowel sluipmoordenaars gewees het. Maar ons is hier om kiekies te skiet. Dis al.

Ek dink dis byna byna agtuur toe ’n slap wit Mercedes Benz die perseel stadig binnery. Oe, hier’s dit nou.

Die lyfwagte draai almal om die Merc en daar sien ons hom toe: die 22 jarige bloubloedkêrel van Ingeland.

Martin se kamera begin kiek en kiek en kiek. Flitsloos, sodat niemand kan sien ons ongenooides is ook daar nie. Later sou ons uitvind daar was sowat 120 gaste by Chelsy se makietie met die tema Roaring Twenties.

prins Harry,chelsy davy
Die aand toe Haidee Muller en die voormalige Huisgenoot-fotograaf Martin de Kock, prins Harry skelm afgeneem het.

Ons het selfs foto’s van heel party gaste ook geneem, seker meestal Chelsy se kampuspelle van die Universiteit van Kaapstad, waar sy destyds studeer het.

Almal uitgevat: vere, strepiespakkies, fedoras op die koppe en lang sigarethouers. Ons kan niks binne sien nie, maar buite is gelukkig heelwat Harry-aksie.

Die prins, met ’n groot roomkleurige hoed, wit hemp en kruisbande kompleet soos ’n Mafia-baas aangetrek, is ’n hele paar keer buite.

Later hang sy kruisbande gemaklik oor sy onderlyf. Duidelik heel tuis hier in die Kaap. Hy drink drankies en gesels buite met die gaste. Nooit sou jy dink hy is ’n lid van die Britse koningshuis nie.

Die verjaardagnooi, Chelsy, daag eers ’n ruk ná hom op. Ek onthou sy het so vinnig uit die motor geklim en na die restaurant gestap dat Martin net aanhou kiek het ingeval sy te gou verdwyn.

Sy het omtrent spiekeries gelyk in ’n kort swart-en-groen rok, kopband en veer in die hare. Kiek, kiek, kiek . . .

Ons het ons vangs om terug te neem kantoor toe, maar daar is een groot probleem: Hoe stap ons hier by die argitekskantoor uit asof niks gebeur het nie?

Daar is bonkige manne in swart om mee rekening te hou en daai groot staalhekke is toe. “Kom stap net agter my aan. Ons maak asof ons al drie laat gewerk het,” laat die leerling-argitek hoor. “Vat sommer van die bouplanne wat hier rondstaan; ons is mos argitekte.”

Oukei. Voorwaarts, mars.

Ons stap verby Chelsy se grênd gaste. Nie een van ons maak oogkontak met die manne in swart of met die partytjiegangers buite nie.

Martin los sy kamera in die kantoor om dit die volgende dag te gaan haal. Niemand vermoed onraad nie. Hulle maak selfs die groot staalhekke vir ons oop. Maar buite is meteens groot moles.

Ons het nie met die ander mediamense rekening gehou nie. Iewers uit nêrens herken ’n ander tydskriffotograaf wat buite die restaurant rondstaan – seker ook op soek na ’n foto – ons albei.

That’s the media,” gil hy toe so ewe uit sy beurt uit. “They’re from YOU magazine!” Seker suur omdat hy nie self sy storie kon kry nie.

Skielik is die leerling-argitek skoonveld. Harry se manne besef hier’s moeilikheid en toe ek weer sien, is Martin omring deur groot, gespierde manne. En ek? Ek hol weg.

Glo my, enigiemand in my skoene sou ook. Hulle wil Martin se foto’s hê. Maar kyk, as jy slim is, is jy slim. Die geheuekaartjie van die kamera is lankal op pad na ons kantore.

Van die steelfoto's wat Martin op die aand geneem het.
Van die steelfoto's wat Martin op die aand geneem het.

Sien, daar was nog twee van ons Huisgenoot-makkers buite by oudbuurman se kantoor. Hulle het gemaak of hulle gewone voetgangers is sodat die flitsligbrigade hulle nie kon uitken nie.

Ons “buitespan” het reeds voor ons uittog die kaartjie deur die venster gekry en hulle uit die voete gemaak. Dus sou Martin nie sy foto’s kon oorhandig nie, selfs al wou hy. Daar is niks. Hulle moet hom laat gaan.

Later vertel hy laggend iemand het hom nog dieselfde aand gebel, gesê hulle weet hy het iewers kiekies en dat hy dit moet uitvee of daar is moeilikheid. Dit was amper soos’n dreigement.

Ons weet wie hierdie man was, maar laat hy liewer naamloos bly.

Punt is: Ons was uitgeslape, ons het ons foto’s gekry, gewese buurman was op die regte tyd en plek en Martin se naam het later ook in die Britse glanstydskrif Hello! gepronk.

Ja, in daardie kantoor sonder ’n toilet moes ek ure lank knyp, maar op die ou end was alles die ongemak werd.

’n Groot opskrif op daai week se voorblad? 

“Wêreld-eksklusief,” het dit gelui. Wêreld-eksklusief. Nou dit wil mos gedoen wees . . .

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe

Jongste uitgawe

2 Februarie 2023

Jongste uitgawe
Klik hier om te gaan na jóú biblioteek met jou tydskrifte en -koerante.
Begin lees