As Franz Kemp ’n gewone ou was, sou ons paaie nooit gekruis het nie. As hy die deursneemens was wat van nege tot vyf gewerk en op 60 of 65 afgetree het, sou ek hom nooit ontmoet het nie.
Maar natuurlik was niks omtrent Franz gewoon nie, en anders as die deursneemens het Franz nie op 60 of 65 of, om die waarheid te sê, ooit afgetree nie.
Dis waarom Franz al in sy 60’s was (hy het altyd volgehou hy is 48) toe ek, pas 26, in 2004 by Huisgenoot begin werk. Toe was hy al afgetree, maar so briljant was hy dat Huisgenoot hom gevra het om ná sy aftrede op kontrakbasis as burohoof in Johannesburg aan te bly.